Jake White is oorgehaal om oudergewoonte ʼn verskil in die rugbywêreld te maak. Maar ná verlede maand se noodoperasie aan sy dunderm kyk hy met nuwe oë na die lewe én die spel.
“Rugby is fantasties en dit is ʼn voorreg om ʼn afrigter in ʼn toernooi soos die Verenigde Rugbykampioenskap te wees. Ek is steeds ʼn baie mededingende mens, maar hierdie ervaring het beteken dat ek ʼn kopskuif gemaak het oor hoe om die spelers te motiveer en om jou balans in die lewe reg te kry,” sê White.
Die ervare afrigter wat die Webb Ellis-trofee saam met John Smit in 2007 omhoog gehou het, wil steeds rugbywedstryde saam met die Bulls wen.
“Volgens die dokter was ek skaars uit die teater toe ek gevra het of die Stormers gewen het. Hulle het toe teen die Glasgow Warriors gespeel en ek het geweet dat die uitslag van daardie wedstryd ʼn invloed op ons veldtog sou hê. Maar ek het dit ook gevra uit ʼn mededingende oogpunt; dít is nie iets wat ek sommer sal verloor nie.”
White erken egter dat sy perspektief verander het.
“Ek het ook gedink – sê net ons was onoorwonne en ek het daardie aand op die operasietafel doodgegaan, sou dit enigsins ʼn verskil gemaak het? Sou ek enigsins anders gevoel het as ons die hele seisoen nog nie een wedstryd verloor het nie?
“Om tyd in die intensiewe sorgeenheid te spandeer gee jou ʼn kans om helder te dink. Dit is ʼn ervaring wat my meer van balans geleer het en ʼn waardering vir die feit dat dinge binne ʼn oogwink kan verander. Rugby is nie die begin- en eindpunt van alles nie en dit beteken dat ek dinge anders op die oefenveld gaan benader.”
Volgens die 59-jarige afrigter wil hy toesien dat die spelers met glimlagte op hul gesigte oefen en speel.
“Ek gaan dit aktief in my benadering toepas en die spelers moet die spel geniet omdat dit ʼn vreugde en ʼn voorreg is om rugby te kan speel. Ek kan nie wag om terug te gaan werk toe nie!”