Jong Bokke te lig bevind teen Aussies

Die Junior Springbokke het met 24 – 19 teen Australië in Queensland verloor. (Foto: X/Junior Springbokke)

Die Junior Springbokke is nog op soek na hul eerste oorwinning van die o. 20-Rugbykampioenskap nadat hulle vandag teen Australië op ʼn nat Sunshine Coast-stadion vasgeval het.

Die Suid-Afrikaners het ʼn slordige wedstryd met 24 – 19 verloor en dit was veral hul afronding- en hanteerwerk wat hulle in die steek gelaat het.

Hulle het egter uitstekend verdedig.

In spelers soos JF van Heerden, Ethan Bester en Divan Fuller beskik die jong Bokkies oor meer as genoeg slaankrag om hul teenstanders heeltemal voorlangs te oordonder.

Tog was dit die Aussies wat die septer in die vaste fasette geswaai het en teen rustyd het hulle ʼn voorsprong van 10 – 7 geniet.

Van Heerden kon weliswaar ʼn drie in die eerste helfte gedruk het, maar die Australiërs het die meerderheid balbesit geniet terwyl hulle ook gevaarliker op die aanval gelyk het.

Dan het Mbasa Maqubela se rooi kaart – hy het ʼn bietjie té entoesiasties by ʼn losskrum ingeduik – alles behalwe ʼn positiewe invloed op die Suid-Afrikaners se wedstrydveldtog gehad.

Toe die spel weer hervat is, het die gelyk of die twee spanne beurte maak om die bal aan te slaan. Talle belowende aanvalsgeleenthede is deur swak hanteerwerk (en ook goeie verdediging) gekelder en dit was ʼn aangename verrassing toe Litelihle Bester deur die Aussie-verdediging gebars het.

Thurlon Williams het met sy skopskoen vir die bykomende punte gesorg en skielik het Suid-Afrika ʼn voorsprong van 14 – 10 geniet.

Australië kon egter onmiddellik terugslaan toe ʼn skitterende Angus Staniforth vir Shane Wilcox vir nóg ʼn drie deurgejaag het.

Die jong Bokke se geploeter in die skrums het tot verdere konsternasie gelei en ʼn latere strafdrie was waarskynlik die finale spyker in hul doodskis.

Tog het hulle geweier om te gaan lê en ʼn vlieënde Bester het sy tweede drie van die kragmeting gedruk nadat hy Jurenzo Julius se skoppie uitstekend opgevolg het.

Maar dit was toe reeds te laat.

Junior Springbokke: Michail Damon (heelagter), Joshua Boulle (regtervleuel), Jurenzo Julius (buitesenter), Phillip-Albert van Niekerk (binnesenter), Litelihle Bester (linkervleuel), Thurlon Williams (losskakel), Asad Moos (skrumskakel), Tiaan Jacobs (agtsteman), Keanu Coetsee (flank), Divan Fuller (flank), JF van Heerden (slot en kaptein), Bathobele Hlekani (slot), Reno Hirst (stut), Ethan Bester (haker) en Mbasa Maqubela (stut). Plaasvervangers: CJ Erasmus, Liyema Ntshanga, Casper Badenhorst, Adam de Waal, Thabang Mphafi, Hassiem Pead, Bruce Sherwood en JC Mars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kragaap ·

Baie goeie spelers soek maar weer die fout by spankeuses en afrigting. Kyk na seniors, waar bokke 4 bekers gewen het. Afrigting, spankeuses en strategie was krities. Net een van die eienskappe wat die afrigters in gemeen gehad het.

Manie ·

Dankie loskop, jy het straks eiehandig jou span die wedstryd gekos met die rooi kaart.

Fran ·

Regstellende spankeuses terwyl die beste slot – Dyer – nie eers op die bank is nie! Afrigter swak verby!

piet ·

Ek het die wedstryd gesien. 3 Strafskoppe in die skrums afgestaan (dit teen Aussies). Daar is ‘n paar goeie baldraers in die voorspelers (dis nou as hulle nie die bal aanslaan nie) en agter gaan daar nie veel aan nie behalwe die een senter wat nogal goed is. Dink hulle kan ander spanne voorlangs oordonder maar vergeet maar daardie donkietaktiek werk nie meer teen die beter spanne nie. Argentinie het hierdie Aussie span met amper 30 punte geklop terwyl NZ weggehardloop het met Argentinie. Ek dink ons gaan die laaste wedstryd ook verloor en laaste kom in die kompetisie. Nie ‘n baie sterk span nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.