Kampioenebeker nie vir sissies, waarsku White

Jake White. Foto: GB Jordaan.

Suid-Afrikaanse spanne kry die naweek hul eerste proesel van die Heineken-kampioenebeker en Jake White waarsku dat sukses nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.

Die Bulls begin hul veldtog teen Lyon, terwyl die Sharks en Stormers onderskeidelik teen Harlequins en Clermont sal kragte meet.

Volgens die Pretorianers se direkteur van rugby kan ’n Kampioenebeker-kragmeting met ’n internasionale toets vergelyk word.

“Ons gaan teen spanne speel wat met internasionale sterre gelaai is. Europese spanne maak nie net op plaaslike talent staat om die wa deur die drif te trek nie; hulle sit met topspelers van al die beste rugbylande,” het White gesê.

Die afrigter – wat in 2007 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke omhoog gehou het – waarsku terselfdertyd dat goeie spelpeil in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) nie noodwendig ’n rits Kampioenebeker-oorwinnings waarborg nie.

“Ek vrees dat Suid-Afrikaners ’n bietjie naïef is oor wat op hulle wag. Hierdie spanne is immers baie sterker as ons teenstanders in die VRK – hulle spog met ’n pak voorspelers wat die skaal op meer as 1 000 kg laat kreun, terwyl hulle terselfdertyd oor briljante agterspelers beskik. Dié naweek kan beslis ’n wekroep vir ons wees.”

Dan is nie alle oorsese rugbyliefhebbers ewe opgewonde oor die deelname van Suid-Afrikaanse spanne in Europese kompetisies nie.

Morgan Parra, die Franse skrumskakel met meer as 70 internasionale toetse agter sy naam, het vroeër sy misnoeë met die stand van sake te kenne gegee.

“Ek gaan eerlik wees – dit gaan ’n wonderlike ervaring vir die spelers wees om teen Suid-Afrikaanse teenstanders te speel – maar kan ’n mens dan nog van die Kampioenebeker praat? Dit was voorheen ’n Europese kompetisie wat gelaai was met geskiedenis en tradisie; nou is ek nie meer so seker nie,” het die Stade Français-speler gesê.

Stuart Barnes – die voormalige Engeland-losskakel – het in sy The Times-rubriek ook mond oor die onderwerp uitgespoel.

“Daar gaan nou drie Suid-Afrikaanse spanne in ’n toernooi speel wat veronderstel is om die beste span in Europa te bepaal,” het hy geskryf.

Volgens Barnes is “verwronge” dalk die beste woord om dié stand van sake te beskryf; so amper asof Kaizer Chiefs nou saam met Manchester United en Barcelona in aksie is.

“Die Europese Kampioenebeker is geskiedenis. Die krag van die Heineken-beker het in die vurige wedywering tussen klubs, provinsies en lande gelê. Dit is ’n geleentheid vir ondersteuners om hul spanne na ander lande te volg. Gaan dieselfde aantal toeskouers die tog van Limerick na Pretoria aanpak?”

Hierdie naweek se Kampioenebeker-bepalings:

Sharks teen Harlequins (Saterdag om 15:00)

Clermont teen Stormers (Saterdag om 17:15)

Bulls teen Lyon (Saterdag om 19:30).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Stuart Barnes is nie verkeerd nie. Dis belaglik dat Europese spanne uit hul winter na Suid-Afrika moet reis om in snikhete versengende somerweer ‘n winstersport te kom beoefen. Globaliste probeer self die seisoene , net soos die geval met landsgrense, kultuur en identiteit, neutraliseer.

Kobus ·

So Hennie vir jou is dit reg om dan na hulle erge koue te gaan en daar te speel.Ons speel in hulle koue en hulle speel in ons hitte

OW ·

Vandat rugby ‘n beroep geword het is dit nie meer net ‘n winterspel nie,en daar word van spelers verwag om op feitlik enige plek en toestande te speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.