Kan Allister ’n uitsondering vir beseerde Marcell Coetzee maak?

Marcell Coetzee - sy Bokloopbaan is verby solank hy oorsee is.

Marcell Coetzee – sy Bokloopbaan is verby solank hy oorsee is.

Die kans dat die voormalige Sharks-flank, Marcell Coetzee wat vir Ulster in Ierland speel, weer vir die Springbokke sal uitdraf, is na ‘n ernstige kniebesering in die gedrang.

Met die nuwe regulasies van Saru, wat op 1 Julie 2017 in werking tree, sal Suid-Afrikaners wat oorsee speel slegs vir die Springbokspan oorweeg word indien hulle reeds in 30 of meer toetse gespeel het.

Coetzee het dieselfde knie wat hom verlede seisoen van die veld gehou het, Saterdag weer beseer, volgens die BBC. Die aanduidings is dat hy nou weer nege maande langs die kantlyn sal sit.

Die dilemma met Coetzee, met 28 toetse op sy kerfstok, is dat gehoop is dat hy in die drie toetse wat die Springbokke in Junie teen Frankryk speel sou kon uitdraf om sodoende aan die kwalifiserende vereiste van 30 toetse te voldoen.

‘n Mens het die indruk gekry dat die afsnydatum van 1 Julie spesifiek vir Coetzee se toekomstige deelname gekies is. Geen ander oorsese Springbok Suid-Afrikaanse speler is naby genoeg aan 30 toetse om die afsnydatum te haal nie, en die ander spelers is lankal daar verby.

Coetzee het einde verlede jaar ‘n driejaarkontrak met Ulster gesluit, wat hom effektief tot 2019 sy brood in botter in Ierland sal laat verdien.

♦  Sou Allister Coetzee, afrigter van die Springbokke, voel dat Coetzee onmisbaar in die Springbokspan is nadat hy van die kniebesering herstel het, kan hy natuurlik ‘n versoek aan Saru rig om ‘n kontrak aan Coetzee aan te bied om sy rugby plaaslik te speel.

Met die huidige stand van Saru se beursie, wat glo nie te dik is nie, is dit egter te betwyfel of die beheerliggaam die geld het om een speler terug Suid-Afrika toe te lok.

Dit sal ook beteken dat ‘n bedrag aan Ulster betaalbaar sal wees om Coetzee uit sy kontrak met hulle los te kry. Dit kan ‘n onhaalbare bedrag wees om op te dok.

Die nuwe bepaling van 30 toetse geld nie in die jaar waarin die Wêreldbekertoernooi beslis word nie. Die Springbokafrigter kan enige speler wat oorsee speel kies vir die 2019-Wêreldbeker wat in Japan beslis word.

♦  Daar is natuurlik ‘n ander uitweg vir die Springbokbreier.

Met dié dat Coetzee se reputasie as afrigter op die spel is en hy deurgaans die beste spelers tot sy beskikking wil hê, kan hy dalk ‘n versoek aan Saru rig dat Coetzee ten spyte van slegs 28 toetse steeds verkiesbaar vir die Springbokke moet wees.

Maar dit sal eers aanstaande jaar na sy herstel kan wees, en sal nie net ‘n gevaarlike presedent skep nie, maar ook ‘n bespotting van Saru se beleid maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snuffels ·

Die is een van die beste spelers ter wereld…maar ons het genoeg talent in Oupa, Carr, Kolisi, of hoe AC?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.