Kanonpoot Swanepoel bly in Leeuland

Tiaan Swanepoel in aksie vir die Leeus. Foto: GB Jordaan.

Een van die manne wat ’n rugbybal die verste in die land kan skop, die Leeus se Tiaan Swanepoel, het hom vir ’n verdere drie jaar tot die Johannesburgse unie verbind.

Die jong heelagter was een van die Leeus se uitblinkers in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reekse en sy rugbyverhaal lees soos ’n wafferse sprokie.

Hy is in Namibië gebore, was op Stellenberg in die Wes-Kaap op skool en was twee jaar in die Maties se Varsitybeker-spanne voordat hy besluit het om ʼn rugbypaadjie in Australië te gaan uitkap waar hy in Sydney klubrugby gespeel het.

Maar waar hy twee werke moes doen (vir iemand wat nog nooit gewerk het nie) om die pot aan die kook te hou, was die oproep vroeg in 2020 om hom as ʼn beroepspeler by die Leeus aan te sluit, soos manna uit die hemel en gaan hy van krag tot krag.

Dit lyk ook asof hy die stelskoppligte by Elton Jantjies oorgeneem het.

Hy is ’n langafstand-spesialis wat monster-strafskoppe oor die dwarslat kan jaag – Ivan van Rooyen (afrigter) het juis met ’n suksesvolle Swanepoel-skop van by die 70 m tydens ’n oefensessie gespog.

Die Leeus se skrum sal ook stewig geanker bly met die belowende stut, Sti Sithole, wat sy kontrak met twee jaar verleng het, terwyl Reinhard Nothnagel ook vir drie jaar in Leeukontrei sal bly.

Die oudspeler van Hoërskool Monument in Krugersdorp laat die skaal op 115 kg kreun, terwyl hy 2,02 m in sy sokkies staan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.