Kanse is goed dat Faf sal aanhou skop

Ondersteuners sal hoop dat Faf de Klerk die bal meer sal laat loop teen Wallis. Foto: ANA.

Faf de Klerk is as die speler van die wedstryd aangekondig in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan in Tokio, ondanks sy geskoppery wat tot groot frustrasie lei.

Die blonde skrumskakel het ’n sleutelrol in Makazole Mapimpi se eerste drie gespeel, hy het ’n lekker drie van sy eie gedruk, hy het sewe keer met die bal gehardloop en 36 keer die bal uitgegee. Maar gemakstoel-rugbykenners is van mening dat hy ook die bal ontelbaar kere weggeskop het. En dít heel onnodig.

De Klerk skop die bal só gereeld agter losgemale en skrums weg, dat internetgrapjasse hom “Gaan Skop de Klerk” in ’n video herdoop het. Wanneer hy sy voet só uitsteek, kan jy maar weet hy gaan skop.

Maar, sê Conrad Breytenbach, hoewel De Klerk se geskoppery tot frustrasie lei, dit definitief onder opdrag is.

Breytenbach het destyds saam met die legendariese Joost van der Westhuizen vir die Blou Bulle op skrumskakel diens gedoen. Hy het ook die Pretorianers se eerste drie in hul suksesvolle 1998-Curriebeker-eindstryd teen die WP op Nuweland gedruk, terwyl hy ook vir die Blitsbokke uitgedraf het.

De Klerk vier sy drie  teen Japan.(20 Oktober 2019) (Foto: AP Photo/Mark Baker)

“Soos wat ek dit verstaan, gebruik die Springbokke dit as ’n taktiek wanneer daar nie veel [aanvalsgewys] aan die gang is nie en die bal stadig is. Hulle probeer dan om veld te wen deur die bal weg van hul eie doellyn te skop,” het Breytenbach aan Maroela Media gesê.

“Dit is byvoorbeeld ’n baie makliker opsie as om met 20 fases te probeer om 20 meter se veldgebied te wen; die hele span weet waarskynlik wat van hulle verwag word wanneer die bal só geskop word.

“Dit was egter uiters frustrerend teen Japan omdat ons dit ook gedoen het as ons omgekeerde besit – die gevaarlikste vorm van besit – bewerkstellig het. Ons het dan basies onmiddellik net weer die bal terug na hulle geskop.”

Volgens Breytenbach het die taktiek teen Japan gewerk – die “Ferrari’s” het hulle moeg gehardloop en nie juis ver gevorder nie.

Hy voorspel dat De Klerk sal aanhou met sy skoppe teen Wallis in die naweek se halfeindstryd.

“Dit is glad nie mooi nie, maar dit is ’n effektiewe benadering, want ons kry genoeg tyd om ons verdedigingslyne te organiseer wanneer daardie skoppies kom.”

  • Intussen is die Springbokke vierde op die jongste wêreldranglys gekeur. Die vier toprugbyspanne ter wêreld – Nieu-Seeland, Wallis, Engeland en Suid-Afrika – sal die naweek sake in die Wêreldbeker-halfeindstryde uitspook.
  1. Nieu-Seeland
  2. Engeland
  3. Wallis
  4. Suid-Afrika
  5. Ierland
  6. Australië
  7. Frankryk
  8. Japan
  9. Skotland
  10. Argentinië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Janneman ·

Hoekom die balbesit wegskop en verdedig, terwyl daar `n agterlyn en sterk groep voorspelers is. Geen logika in die benadering nie. Teen NZ gaan hulle ons mors elke keer wat ons die bal so verniet aan hulle gee. Lyk of ons geen plan het nie.

Henk ·

ek stem 100% saam, As hulle die patetiese skop patroon volg, maak maar reg vir ‘n verloor. as ek skop werk wil sien dan gaan kyk ek sokker. eenige balbesit in Engeland of all blacks se hande is punte, hoe dom kan ons wees.

Joke! ·

Het die mense al gehoor van n tik skoppie oor die koppe ? Het die bokke al gehoor van skop reguit vir jou vleuel? Het die manne al gehoor van skop ver en skop uit? Die probleem is Faf skop dit amper net reguit in die lig op en wen basies niks meters nie maar gee net die bal besit weg veral omdat hul nie eens probeer opvolg en probeer kompeteer nie! Hoe dink hul kan dit suksesvol wees??? Gee die All Blacks soveel bal verniet en moet nie verwag om te wen niewant hul gaan jou verniel!

Dave ·

Die bal is stadig sê jy……kom ons kyk wie is die groot rede dat hy stadig is, ons eie Faf self. Die lyne is lankal opgestel dan word daar gekrap krap na die bal deur die einste Faf. Wallis het lankal hulle planne daarteen gemaak. Pasop! Ek hoop jy is verkeerd anders as die skop skop game plan as Faf aan is, is hy briljant!

Francois ·

Dankie Dave!
Dit irriteer my grensloos as die skrumskakel so staan en krap-krap met sy voet aan die bal en die oponente al die tyd in die wereld gee om hulle verdediging reg te kry. Kom ons kyk na feite:
1. Die spel patroon het gewerk tot nou toe vir die Bokke teen die spanne wat hulle gespeel het (uitgesluit AB’s)
2. Die spelpatroon is uiters voorspelbaar na die skrumskakel se tweede skop oor die skrum – veral as dit knaend n swak skop is in die oponente se hande in.
3. Sodra jou spelpatroon voorspelbaar raak kan jou spel onmiddelik uitgebuit word.
4. Die Japanese het dit probeer maar is deur ons grofgeskut gekeer.
5. As dieselfde spelpatroon teen WAL gaan uitspeel, gaan dit baie moeiliker wees vir ons voorspelers om weer balbesit te wen – WAL se voorspelers is heelwat beter as Japan s’n.
6. Dit gaan n tragiese fout aan die Bokke se kant wees, indien ons deurgaan na die finale en n voorspelbare spel teen hulle gaan speel en hulle voorspelers gaan in die 7 de hemel wees as ons elke keer met harde baklei die bal in vaste, los of omgekeerde spel wen en vir hulle terugskop – hulle gaan ons uitmekaarhaal!!!

MANIE ·

Die bokke nog net een keer getoets op die wereldbeker en klaaglik misluk. Rassie is n opportunis en n swak afrigter. Hy weet hoe om die politiek te speel maar dit is ook al

Jaap ·

Skop dan weg van jou doellyn af en nie net laat bal op losskrum val nie.
Stupid leer skop dan en skop reg.

Grietjie ·

Ek stem saam, dis nie logies om elke keer balbesit weg te gee nie, hou eerder bal in hand en beweeg nader aan die pale, van nou af gaan dit eerder oor punte op die telbord as drieë, daarom stel ek voor begin weer met skepskoppe, vroeër jare het dit uitstekend vir ons gewerk, ek sien nie meer dat die ouens skepskoppe probeer nie. Ek weet baie mense sê skepskoppe raak afgesaag, maar as dit punte op die telbord sit, hoekom nie? Vra maar net!

Grietjie ·

Ek stem saam, Faf staan balbesit af wat onnodig is, hou die bal in die hand en beweeg nader aan die pale, van nou af gaan dit oor punte op die bord en nie hoeveel drieë ons kan druk nie. Ek stel voor Handré of Frans Steyn moet dan skepskoppe probeer, ek sien nie meer dat dit gebruik word nie, vroeër jare het dit baie gunstig vir ons gewerk. Almal sal dalk nie saamstem nie, maar hey ons kan probeer, as hul dan wil skop, doen dìt eerder.

Judge Dredd ·

……so eintlik wat die skrywer se is dat ons agterlyn nutteloos is, want na 20 fases kan hulle nie 20m maak – en dis waarom ons skop…….

Pieter ·

Rassie weet wat hy doen, wanneer laas het ons die tri nations gewen? Ek vermoed die spelpatroon gaan baie verander na die volgende wereldbeker, gee kans. Ons het al baie ver gekom sedert Rassie oor gevat het… Ons is weer kompeterend teen die bestes. Bokke bo!!!

EAN ·

Die “Reguitbeen-strategie” van Faf en sy bestuur gaan hulle nog self kelder. Met die strategie sal ons vir die 3 plek uitspeel..Lol

Kerneels ·

Die reguitbeen-strategie het ons in die semi-finaal gekry

Spike ·

Dit is omdat daar nie vertoue in ons agterlyn is om aanvallend te speel nie.

Kerneels ·

In al vier kwart-finale het die wenspan meer geskop as hul opponente. In bokke se poel wedstryd teen AB het hulle 24 keer geskop, AB 30 keer. Om die WB te wen, speel mens wen-rugby, nie mooi-rugby nie.

Canine ·

Dan moet ons maar Rugby union los en Aussie rules begin speel. Soos wanneer bokser heel tyd aan sy opponent klou en dan wen. Dit maak hom nie goeie bokser nie. En wie wil die gemors Kyk? Briljante spel en groei deur Japan in Japan. Uitstekend vir wereld Rugby. Dan kom ons al skoppende en stampende. Skande. Mag beste span wen.

Kerneels ·

Ek verkies nog steeds om lelik te wen as om mooi te verloor.

Jj ·

Ons het die lynstane ge”rule”…hoekom dan nie uitskop nie?

Christo ·

As die spelpatroon (van heeltyd skop) nie werk nie, hoekom kan die kaptein dan nie besluit om iets anders te probeer nie? Hy behoort mos so ‘n besluit te kan maak – dis hoekom hy die kaptein is. Vra maar net…………..

David Potgieter ·

Hoekom wil jy verdedigingslyne in plek kry as jy besit van die bal het? Vir my beteken dit net een ding: skop besit weg. Die All Blacks geniet Suid Afrika se hoe skoppe, want dan hardloop hulle gate deur ons verdediging.
Of, is die Bokke se agterlyn so pateties dat hulle, soos die laaste wedstryd wys, nie met die binne senters gapings kan slaan nie? Komende van ‘n rusbank kenner met bier en biltong in die hand.

David Potgieter ·

As ek nou ‘n siniese mens was, sou ek se dat Faf man van die wedstryd gekies is sodat hy in die volgende toets gekies word, sodat die Bokke swak kan speel.
Reinach het gewys watter goeie speler hy is, maar nee, na Faf se drie speel hy seker in die volgende 2 wereld bekers.

En nou? ·

Sal almal asb tog net tot bedaring kom!
Rassie is die beste afrigter in die wereld, nie net sy taktieke ontleding nie, maar sy “man management skills” ook!
Rassie werk al jare aan hierdie plan! Sal almal net kalmeer en die wereldbeker dophou!

Faf skop nie net, want dis lekker nie! Faf skop, want Rassie as AFRIGTER het hom die opdrag gegee – ek verstaan dit ook nie, want ek hou van hardloop rugby, maar net soos ek baie dinge in die lewe nie verstaan nie, want ek het nie ondervinding in dit nie, al ondervinding wat ek het is die liefde in my hart vir die sport!

‘n Wereldbeker gaan nie oor om met 50 punte elke game te wen nie, MENS MOET NET WEN!

Kom ons wees positief en hou die bokke dop!
Ek se julle nou al, ons gaan die beker huis toe bring!!!

SjN ·

Merk my woorde, indien hul die finaal haal, gaan daar die minimum geskop word. Daar is tans te veel voorspelers in die agterlyn en die balle kom nie by die vleuels uit nie. Hoop Rassie werk met n plan!!!!!!!!

Kwagga ·

Kies vir Reinach wat die spel opwindend maak. Faf is overrated!!!!

TwaalfBoor ·

Jantjies is beter as Reinach. Reinach het ñ goei game gehad teen ñ ondergemiddelde span.

Werner ·

Breytenbach se insette is van geen waarde nie, want hy kan nie eers onthou dat die 1998-eindstryd (waarin hy n drie gedruk het) op Loftus was en nie op Nuweland nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.