Kitshoff ook ʼn breker in Belfast

Ulster se Dan McFarland is in sy noppies met Steven Kitshoff se werksetiek. (Foto: X/Ulster)

Ulster het die nuwe jaar op die beste manier moontlik begin toe hulle vir Leinster met 22–21 in Dublin geklop het. Dit was slegs die Belfast-manne se derde oorwinning in 22 wedstryde op die RDS Arena.

Een van die besoekers se sterre is ongetwyfeld Steven Kitshoff en hoofafrigter Dan McFarland het die Springbok-stut se lof besing.

“Ek dink sy algemene spel – en nie net sy skrumwerk nie – is een van sy grootste sterk punte. Hy dra die bal uitstekend, hy verdedig goed en hy is altyd ʼn gevaar op die veld,” het McFarland gesê.

Ulster het nou drie wedstryde op ʼn streep – teen Racing 92, Connacht en Leinster – gewen, maar die span het aanvanklik gesukkel.

Ulster het onder meer teen die Glasgow Warriors en Bath verloor en dit was omtrent ʼn vuurdoop vir Kitshoff toe hy ná die Wêreldbeker-toernooi in Belfast aangemeld het.

“Dit is beslis ʼn wekroep vir my,” het die 31-jarige voorryspeler destyds aan die Ierse media gesê.

“Maar in dieselfde asem het ek ook nie vir een oomblik gedink dat ek net wedstryde saam met Ulster gaan wen nie. As speler moet jy bereid wees om hard te werk; veral as dinge nie reg uitdraai nie.”

Kitshoff het ongetwyfeld hand in eie boesem gesteek en hy het met ʼn barshouvertoning teen Racing 92 vorendag gekom.

Die Wêreldbeker-wenner het toe tien keer die bal gedra, twee verdedigers terstond geklop en hy was in die kol met al agt van sy duikslae.

Ulster het die wedstryd met 31–15 gewen en die herlewingsklokke het in Belfast weergalm.

“Steven is nie bang om eerlik te praat nie; as ons aan iets moet werk, sal hy dit uitwys. Hy is ʼn dubbele Wêreldbeker-wenner en hy het die Stormers na Verenigde Rugbykampioenskap-glorie gelei – hy is beslis een van ons topspelers,” het McFarland afgesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.