Klubrondomtalie: Springs slaan byna SA rekord

Springs het Saterdag so hittete die Suid-Afrikaanse rekord vir die grootste oorwinning in ʼn senior klubwedstryd geslaan.

Hy het Kemptonpark se Wolwe in die Valke se Peregrineliga met 150-0 verslind.

Ammosal (Griekwas) het die rekord in 1977 opgestel toe hy Kimberley-Weermag met 160-6 verfomfaai het.

Luidens ʼn plasing op Springs se Facebook-blad was dit vir die meeste Wolwe hul tweede wedstryd van die dag, en vir sommige selfs hul derde.

Die wenner loof Kemptonpark vir sy goeie sportmanskap en die feit dat hy al sy bepalings nagekom het.

“Nooit het julle baklei nie, en ook het jul koppe nie gehang nie. Selfs met 14 man op die veld het julle nooit moed opgegee nie. Dit wil gedoen wees …,” lui die plasing onder meer.

In die ander kragmetings in dié reeks het die heersende kampioen, Vereeniging, vir Brakpan met 31-24 geklop, en East Rand United (ERU) het die NWU Vaal met 46-6 kis gespeel.

Colin Booysen, ERU se spanbestuurder, sê sy span se diepte het beïndruk omdat ʼn hele paar van die staatmakers ʼn blaaskans gekry het, met die oog op aanstaande week se kragmeting teen die Valke-kampioen, Vereeniging.

“ERU se voorspelers was baie fisiek, en die vlugvoetige studente is hard gelak. Hulle het ook die studente met rol-en-dryfmaalbewegingsradeloos gehad, en die gevaarlike agterlyn kon baljaar.”

Booysen laat weet ERU se sagmoedige reus, die loskopstut André Myburgh, was die speler van die wedstryd.

“Hy het elke keer die skare op hul voete gehad wanneer hy die studente met plettervate ‘begrawe’ het. Dit het nogal herinner aan die legendariese Joggie Jansen. Hyhet ook die bal goed gedra en baie meters ver met sy kraglopies gewen.”

Die puntemakers –

ERU – Drieë: JP Fleming(2), Jackie Jonkers(2), Tiaan Ramat, Bakkies Bakumeni, Jacques van Tonder. Doelskoppe: Reagan Fourie(4). Strafdoele: Reagan Fourie.

Meyerton het Benoni in die bond se Merlinliga met 33-24 geklop.

In die Kestrelliga het Oos-Rand Polisie sy knelgreep op die voorloper, Buffels (Grootvlei), behou deur met 36-12 teen Katlehong te wen.

Vanderbijlpark het verras deur Elsburg in ʼn klipharde stryd met 8-3 te verslaan.

Griekwas

Die onoorwonne Kimberley het Saterdag in die laaste rondomtaliestryd van Griekwas se Superliga vir Postmasburg met 102-0 verpletter.

Young Tigers (Calvinia), het United (Upington), verlede jaar se naaswenner, verrassend met 51-0 opgedreun.

Die verdedigende kampioen, Sishen, het Upington-dorp oortuigend met 47-8 verslaan.

Kimberley en United sal mekaar in die een halfeindstryd in Kimberley pak, en eersgenoemde sal gewis wil vergoed vir sy nederlaag teen einste United in verlede jaar se halfeindronde.

Sishen speel op Kathu teen Tigers in die ander halfeindstryd.

In die B-afdeling se eindstryd meet Port Nolloth (wenner Wes) en Kuruman (wenner Oos) in Upington kragte.

Port Nolloth het verras deur Kakamas met 29-20 te klop. Kuruman het Universals van Kimberley met 89-22 afgeransel.

Die verloorspan sal in ʼn promosie-relegasie-wedstryd teen Postmasburg te staan kom.

Die finale puntelere –

Superliga A

Kimberley 48, Sishen 39, Young Tigers 26, United 21, Upington-dorp 17, Postmasburg 10.

Griffons

Ladybrand het die Griffons-Oosstreek se Stoney Steenkamp-beker gewen deur Maseru Select in ʼn puik eindstryd met 17-3 te klop.

Die eindstryd om die Willie Crowther-beker, die streek se senior reeks, word aanstaande Saterdag 15:30 op Frankfort tussen die tuisspan en Reitz, die verdedigende kampioen, uitgespook.

Luiperds

Fochville en Lichtenburg durf mekaar Saterdag in Fochville se Gert van Rensburg-stadion die tweede jaar op die ry af in die eindstryd van die Luiperds se Neserliga aan.

Dis Fochville se tweede probeerslag, nadat Lichtenburg verlede jaar bo was. Laasgenoemde het twee van die vier eindstryde gewen, waarin hy die afgelope vier jaar betrokke was.

Die verdedigende kampioen het Zeerust die afgelope Saterdag met 35-21 in die halfeindstryd geklop.

Fochville, wat die rondomtalie onoorwonne afgesluit het, het by verstek deurgedring nadat Hartbeesfontein nie ʼn span in die veld kon stoot nie.

Die eindstryd skop 15:30 af.

Blou Bulle

In die Blou Bulle se Carltonliga het die Tukkies Saterdag ook met Centurion afgereken. Die studente het met 39-22 gewen.

Theuns Reynolds het drie van die studente se sewe drieë gedruk.

Die puntemakers –

Tukkies – Drieë: Theuns Reynolds (3), Khwezi Mafu (2), Bart le Roux, Abri Reynolds. Doelskoppe: Abri Reynolds (2).

Centurion – Drieë: Cornel Jacobs, Cassie Bezuidenhout, Ashwill Botha. Doelskoppe: Gaybrin Smith (2). Strafdoel: Gaybrin Smith.

Ander uitslae –

Fezelas (UP) 88, Centurion II 17; Pumas (UP) 17, Centurion III 16.

WP

Die naasvoorloper in die Westelike Provinsie se Superliga A, Hamiltons, het ʼn groot terugslag ervaar toe een van die agterosse, Schotschekloof-Walmers, hom Saterdag verrassend met 26-19 geklop het.

Durbanville-Bellville het op sý beurt sy voorsprong gerek deur Belhar met 92-10 op te dons.

Brackenfell (derde) se sege van 24-21 oor NTK plaas hom ’n enkele ligapunt voor die Goue Beker-houer, Valsbaai, wat nie die naweek in aksie was nie.

Tygerberg, een van verlede jaar se Goue Beker-kwarteinders, het sy tweede wedstryd uit vyf gewen deur St. Georges met 19-17 te klop.

In die Superliga B het Kuilsrivier vir Paarl met ʼn sege van 38-29 uit die eerste plek gedwing. Helderberg is derde nadat hy met 35-31 teen Rangers gewen het, en Hamlets met 17-14 teen Young Peoples vasgeval het.

Macassar het sy skrale voorsprong in die Superliga C gehandhaaf deur Langa met 27-21 reg te sien.

Masiphumelele is steeds onoorwonne in die Stadsliga, al moes hy hard werk om Silvertree met 22-19 te troef. Polisie (tweede) het Perseverance met 92-0 verniel.

Die twee voorlopers het twee wedstryde meer as die meeste spanne in die liga gespeel.

Noordelikes loop met vier oorwinnings in vyf wedstryde voor in die Suiderliga. Hy het Thistles Saterdag met 57-12 oorrompel.

Die drie voorlopers in die Noorderliga was veels te sterk vir hul teenstanders.

Raithby Universals het Strand Pioneers met 74-0 opgefrommel; Blue Stars United het Windmeul United met 38-20 geklop; en Eersterivier het Imiqhayi met 85-0 verpletter.

Albions het sy houvas op die Paarlliga verskerp deur Simondium oortuigend met 41-17 te verslaan, maar Young Gardens (tweede) het sy rieme teen Agter-Paarl styfgeloop. Laasgenoemde het hul kragmeting met 21-3 gewen, en is nou net twee ligapunte agter Gardens.

Goue Leeus

Die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagkampioen, die NWU Pukke, het Randfontein Saterdag met 42-20 geklop.

Roodepoort moes op sý beurt harder werk om Pirates met 31-26 te troef. Hy is nou met 39 net een ligapunt agter die voorlopers, Wits en UJ.

In die reeks om die Bailybeker moes Unie bakstaan teen Johannesburg Polisie om sy onoorwonne rekord te behou. Hy het met 24-21 gewen, en is nou ses punte beter af as die Bobbies.

Diggers het Soweto Eagles met 66-0 oorweldig.

KZN

Terwyl die voorlopers in die KwaZulu-Natalse Eerste Liga (Suid), Hillcrest en South Coast Warriors, ʼn loslootjie geniet het, het Westville Old Boys (WOB) die geleentheid benut om nader aan hulle te skuif deur Pietermaritzburg Collegians met 55-0 te oorweldig.

Ander uitslae –

Premierliga

College Rovers 8, Durban Collegians 0.

Premierreserweliga

Collegians 59, Rovers 19.

Eerste Liga (Suid)

Ballito Dolphins 31, Durban Mets 26.

Middelland

Die eindstryde in die Middelland-subunie se uitklopreekse word Vrydag in die Woodburn-stadion, Pietermaritzburg, beslis.

Voortrekker-oudleerlinge (VOL) speel teen Drakensberg (Winterton) om die Boet Wessels-beker (18:30), en VOL II teen Young Lions (Woodlands) om die Hiltonbeker (20:00).

Limpopo Blou Bulle

Potgietersrus het Saterdag in ʼn vriendskaplike wedstryd teen Tuine van Pretoria gespeel. Die besoekers het met 43-31 gewen.

Northam Rhinos oorheers tans die rugbytoneel in Limpopo, met al drie sy spanne wat nog nie vanjaar geklop is nie.

In die Suidstreek woed ʼn kwaai driehoekstryd tussen Naboom, Thabazimbi en Loskop.

OP

Die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagkampioen, Progress (Uitenhage), het Saterdag slae gekry toe Port Elizabeth Harlequins hom met 18-16 getroef het.

Missionvale het PE Polisie besig gehou, maar die Bobbies het op die ou end met 36-24 gewen.

Ander uitslae –

NMMU 27, Star of Hope (Uitenhage) 13; Gardens (Uitenhage) 32, Park (PE) 18; Despatch 19, Kruisfontein (Humansdorp) 14.

Vrystaat

In die Vrystaat-plattelandliga (sonder Vrystaters) het die verdedigende kampioen, Barkly-Oos, Saterdag ʼn groot oorwinning van 60-12 oor Hibernians (Burgersdorp) behaal.

Barkly se rugbydans is Saterdag 19:00 by die plaaslike gholfklub.

Ander uitslae –

Topvyf

Buffels (Aliwal-Noord) 29, EurAfricans (Aliwal-Noord) 20.

Onderste vier

Scorpions (Gariep) 31, Stoele (Venterstad) 14; Universals (Colesburg) 23; Crocodiles (Burgersdorp) 7.

Zimbabwe

Harare Sports Club, die voorloper in die Zimbabwiese liga het Polisie Saterdag met 78-17 opgedreun, en die verdedigende kampioen, Old Georgians, het Old Hararians oortuigend met 42-10 verslaan.

Pumas

Met ʼn enkele weekronde in die rondomtalie oor, is Sasol (Secunda) nog onoorwonne in sowel die Pumas se Premierliga as die Premierreserweliga, en het die spanne in albei gevalle 44 ligapunte.

In die Premierliga word Sasol gevolg deur Nelspruit (34), Middelburg (29) en Witrivier (20).

Sake kan nog interessant verloop in die reserweliga, waar Nelspruit (24), Newcastle Highlanders (24) en Middelburg (21) in ʼn kwaai driehoekstryd gewikkel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.