Kwagga maak Bokspronge in Japan

Kwagga Smith. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP.)

Kwagga Smith het sy waarde tot die Springbok-groep met ʼn uithalervertoning in Japan onderstreep.

Die losvoorspeler is as die speler van die seisoen (afdeling een) aangewys ná sy heldedade saam met die Shizuoka Blue Revs.

Smith, wat die kapteinskapleisels vir sy span vasgevat het, het onder meer toegesien dat sy span die relegasie-valbyl misloop.

Die oudleerder van HTS Middelburg in Mpumalanga het in 2018 sy Springbok-buiging teen Wallis gemaak. Hy het Suid-Afrika sedertdien in 31 toetse verteenwoordig, terwyl hy ook met ʼn Wêreldbeker-wennnersmedalje spog.

Hoewel daar aanvanklik gevrees is dat hy te klein is vir internasionale rugby – sy 93 kg laat die skaal kwalik kreun – het hy al male sonder tal gewys dat hy sy man teen veel groter teenstanders kan staan.

Op 27 Julie 2019 het die Springbokke met 16 elk gelykop teen die All Blacks in Wellington gespeel. Hoewel Herschel Jantjies en Handré Pollard die groot helde was, was dit die Suid-Afrikaners se verdediging wat hulle in die wedstryd gehou het.

Die Bokke moes toe 223 duikslae in die kragmeting uitvoer en niemand het meer as Smith getêkkel nie – nie eens Pieter-Steph du Toit óf Duane Vermeulen nie.

In skaars sy tweede wedstryd vir die vyftienmanspan het Smith 15 keer ʼn All Blacks-speler in sy spore gestuit, terwyl hy ook twee verdedigers in sy agt lopies met die bal geklop en twee keer omgekeerde besit bewerkstellig het.

Nie ʼn slegte vertoning teen ʼn Nieu-Seelandse span wat spelers soos Kieran Read, Shannon Frizell en ʼn aanvallende ster soos Beauden Barrett ingesluit het nie.

Jacques Nienaber het intussen ook Smith se lof besing.

“Kwagga bring iets anders tot die stryd. Te danke aan sy sewesvaardighede wat oor die jare ingeoefen is, weet hy hoe om veel groter spelers te ontduik,” het die Springbok-afrigter gesê.

Ander wenners in Japan

Frans Ludeke, die voormalige afrigter van die Blou Bulle, se Kubota Spears-span het met die louere in die eindstryd weggestap. Hy is terstond as die afrigter van die jaar aangewys.

Dan is drie ander Springbokke saam met Smith – Malcolm Marx (Kubota Spears), Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz) en Faf de Klerk (Canon Eagles) – in die topvyftiental van die toernooi ingesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.