Kyk: ‘Curriebeker hoort g’n in museum,’ sê Stonehouse

Pure Puma-passie. Jimmy Stonehouse word op die spelers se skouers gedra. Foto: Twitter

Die Curriebeker word weliswaar nie al voor die eindstryd gewen nie, maar ’n onwrikbare geloof in jou span, entoesiasme en passie in die opmars tot die finale wedstryd kan seker nie veel skade doen nie, of hoe?

Die Pumas se uitvoerende hoof, Marius van Rensburg, het juis ’n paar maande gelede in ’n onderhoud met Maroela Media gesê dat die Laevelders nie net vanjaar vir ander spanne wil grom nie; hulle wil ook wedstryde wen.

“Die Curriebeker is ’n baie belangrike reeks vir die Pumas en dit is ’n goeie geleentheid vir ons om goed te doen. Ons sien uit om vanjaar baie wedstryde te wen,” het Van Rensburg op 1 Februarie gesê.

En ná gister se aksie in Kimberley het die Pumas nie net belangrike wedstryde gewen nie; die silwerware gaan ook saam met hulle huis toe.

Die Laevelders het Griekwas met 26 – 19 in ’n aksiebelaaide wedstryd geklop. Drieë is gedruk, stelskoppe oor die dwarslat geklits en ’n geskiedboek-inskrywing of twee is gemaak.

“Vandag se wen is só ’n groot eer. Dit beteken so baie vir ons unie, vir die laaities wat van skool af kom en nie baie geleenthede kry nie. Selfs vir ouens soos ek wat opgehou het om rugby te speel; die Pumas het vir my ’n geleentheid gegee. Om vandag as die Curriebeker-kampioenspan hier te staan is net fenomenaal,” het Wille Engelbrecht, Puma-kaptein, ná die afloop van die wedstryd gesê.

(Foto: Carling Currie Cup, Twitter)

’n Trotse Jimmy Stonehouse het, nadat hy die spelers, ondersteuners en Griekwas bedank het, die mikrofoon stywer vasgevat en in ’n sterk stem ’n eenvoudige, dog belangrike boodskap uitbasuin: “Dit was ongelooflike rugby, die Curriebeker hoort nie in ’n museum nie!”

“Ons het in die aanloop tot die wedstryd gesê dat ons sal probeer om drieë te druk en dit is iets wat ons gedoen het. Geskiedenis is eerstens gemaak toe die Pumas en Griekwas vir die eindstryd gekwalifiseer het, die oorwinning is die kersie op die koek,” het die Puma-afrigter gesê.

Trane is beslis gestort, kennisse en vreemdelinge is omhels en daar is ongetwyfeld tot laat fees gevier.

Die Curriebeker hoort g’n in ’n museum nie. As ’n mens gister in Kimberley na die passie van elke speler en ondersteuner gekyk het, brand die reeks nog warm in baie Suid-Afrikaners se harte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

En al wat jy sien is die Puma Masjien…
Pure- Puma- Wuma!!!
Ek is eintlik n Blou Bul – maar die Pumas is my eerste 2e-Keuse van span. Ek het lank in Witbank gebly en my seun het paar wedstryde vir hulle gespeel…Dankie Jimmy… toe die Puma Stadion in Witbank nog die Puma Huis was. (En onderhou was)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.