La Rochelle is Europese rugbymeesters

La Rochelle het vir Leinster in die eindstryd van die Kampioenebeker geklop. (Foto: Christine Poujoulat/AFP)

Leinster het sy soveelste belangrike uitklopwedstryd met ʼn enkele punt verloor toe La Rochelle ʼn merkwaardige terugvegpoging teen die Ierse klubreuse van stapel gestuur het.

Die Fransmanne het hul Kampioenebeker-titel suksesvol in Dublin verdedig toe hulle ʼn aksiebelaaide eindstryd met 27–26 gewen het. Bekendes soos Dillyn Leyds en Raymond Rhule het saam met La Rochelle feesgevier.

Tog het Leinster beslis dié een deur sy vingers voor sy tuisskare laat glip.

Dan Sheehan het binne 42 sekondes die eerste drie van die wedstryd gedruk en voordat die Franse ʼn verbaasde “chère” kon uiter – volgens Google Translate is dit glo die korrekte vertaling vir “goeiste” – het die tuisspan 17 punte op die telbord gehad.

Maar La Rochelle het geweier om te gaan lê. Hulle het eers twee drieë net voor rustyd gedruk, waarna hulle die een aanval ná die ander in die tweede helfte uitgevoer het.

In die 72ste minuut van die kragmeting het hulle uiteindelik die voortou geneem toe Georges-Henri Colombe ʼn drie gedruk het.

Meer as 40 000 Iere was toe skielik tjoepstil.

Jaco Peyper, wat die eerste Suid-Afrikaanse skeidsregter geword het om die fluitjie in ʼn Kampioenebeker-eindstryd te blaas, moes ook ʼn paar groot beslissings maak.

Jaco Peyper het vir Michael Ala’alatoa met ’n rooi kaart van die veld gestuur. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Hy het onder meer vir Ronan Kelleher en Jonathan Danty met geel kaarte van die veld gestuur, maar Michael Ala’alatoa se rooi kaart in die laaste paar minute van die kragmeting was die laaste spyker in Leinster se doodskis.

Leinster het vir die laaste twee minute van die wedstryd op La Rochelle se doellyn geboer. Hulle is egter van alle momentum beroof toe Ala’alatoa met ʼn swierlike skouerduikslag vir Colombe uit die pad wou kry.

Leo Cullen het egter gewaarsku dat sy span nie sommer sal gaan lê nie. Die vuur om ʼn vyfde Kampioenebeker-titel in te oes brand nog helder.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring om voor die toeskouers te speel en die atmosfeer was pleinweg fantasties. Tog is die ouens platgeslaan – hulle het so hard gewerk om nou met een punt te verloor,” het die Leinster-afrigter gesê.

“Ons het ʼn uitstekende aanloop tot die wedstryd geniet; daar was baie positiewe dinge waarna ʼn mens in die eerste helfte kon terugkyk. Daarteenoor het ons gesukkel om uit ons halfgebied in die tweede helfte te kom en La Rochelle het hopeloos te veel balbesit geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.