Leeus ruk laat reg, druk elf keer teen die Kings

Howard Mnisi, man van die wedstryd (Foto GB Jordaan)

Howard Mnisi, man van die wedstryd (Foto GB Jordaan)

Die Goue Leeus se brul was in die eerste halfuur teen die OP Kings in die Baai maar bra fyntjies, maar toe het hulle skielik vlamgevat en die telling van 7-elk binne tien minute na  26-7 teen rustyd verander en uiteindelik 71-7 gewen.

Die Leeus het in die tweede helfte met rukke soos die franchise Superspan, die Lions, gespeel met aansluiting wat net eenvoudig van oral gekom het. Daar was oomblikke van suinigheid teen ʼn span wie se verdediging, na ʼn goeie begin ondanks min besit, heeltemal in duie gestort het.

Daar was tussen die jongelinge wat die Leeus se afrigters losgelaat het ʼn hele klomp uitblinkers, maar niemand het beter gespeel as Howard Mnisi nie. Sy breekslae, terughou van aangeë tot sy spanmaat in die gapings is, rolskoppies wat in Suid-Afrika so skaars is en oorslaan-aangeë het hom laat uitstaan.

Hy was dan ook die man van die wedstryd, en het self twee drieë gedruk. Nie ver agter hom nie was die Blitsbok-uitblinker Kwagga Smit, wat die Leeus Saterdag die heel eerste keer aangevoer het. Hy was oral, en krag, vaart en voorgevoel het aan hom ʼn driekuns besorg.

In die eerste halfuur het die OP se skrums meer ineengestort as wat sonder ʼn geelkaart toelaatbaar is. Binne die eerste tien minute is die tuisspan sewe keer gestraf vir onwettigheid by die skrums en die afbreekpunte.

Dit was die Leeus se een frustrasie. Die ander was die opskietverdediging en die vlak staan van die Kings. Die gevolg was te veel aanslane, agteruitspeel weens swak aangeewerk onder druk en sommer slordigheid van die Leeus teen ʼn span wat na 20 minute net 27 persent van die besit gehad het.

Dit was frustrerend om na te kyk, net soos die Blou Bulle se gesukkel in die eerste helfte van hulle wedstryd Vrydag teen die Boland was voordat hulle reggeruk het.

In die tweede helfte het die Leeus nog sewe drieë tot hulle totaal bygevoeg. Met 11 drieë teen is hulle punteverskil nou 41 beter as die Sharks s’n, wat aanstaande week deurslaggewend kan wees in die bepaling van watter spanne deurgaan na die uitspeelwedstryde en wie nie.

Twee drieë binne drie minute kort na rustyd, drie binne die bestek van ses minute tussen die 63ste en 66ste minuut en weer twee in die laaste vier minute het die Leeus se heerskappy deeglik ingevryf.

Soos in die eerste helfte toe hulle tussen die halfuurmerk en rustyd drie keer gaan druk het, was dit dus weer ʼn geval van fokus behou en opvolg ná hulle gedruk het.

Puntemakers –

OP Kings (7) (7): Drie: Sampie Mastriet. Doelskop: Pieter-Steyn de Wet
Goue Leeus (26) 71: Drieë: Ruan Ackermann, Howard Mnisi 2, Koch Marx, Kwagga Smith 3, Anthony Volmink, Jaques Nel 2, Sylvian Mahuza. Doelskoppe: Jaco van der Walt 5, Andries Coetzee 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.