Lions blus Dragons se vuur

Die Lions het die Dragons met 21 – 11 op Rodney Parade gewen. Foto: Twitter.

Baie keer kom ’n rugbykaptein met ’n generiese antwoord vorendag wanneer hy oor ’n komende wedstryd gepols word: Die span wat die minste foute maak, sal waarskynlik die kragmeting wen.

Nou ja, daar is geen beter manier om vandag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Lions en Dragons in Newport te beskryf nie.

Ná 80 minute se spel het die Johannesburgers met ’n wentelling van 21 – 11 van die veld gestap; hul agtste oorwinning van die seisoen.

Dit was egter die tuisspan wat aanvanklik die balbesit- en veldgebiedstatistiek oorheers het: Rio Dyer het in die hoek vir ’n drie oorgeduik nadat die Lions se Jaco Visagie sonder sukses probeer het om die bal bo oor die kop van ’n Dragons-slot aan te gee.

Die besoekers het egter met ’n Edwill van der Merwe-drie teruggeslaan en hulle sou waarskynlik ook ’n rustydvoorsprong geniet het as ’n drie wel deur die skeidsregter toegelaat was.

In die tweede helfte het die Lions hul stempel net verder op die skrums afgedruk, terwyl Vincent Tshituka ook voorlangs ’n barshou gespeel het.

Terselfdertyd was twee voorspelers, Ruan Venter en Ruan Dreyer, onderskeidelik vir die besoekers se tweede en derde drieë verantwoordelik.

Toegegee, die Lions het ook maar ’n hele paar hanteerfoute begaan, maar hulle het net hul geleenthede veel beter as ’n flouerige Dragons-span benut.

Dit was nou nie die toppunt van aanskoulike rugby nie, maar dit bly lekker as ’n Suid-Afrikaanse span weg van die huis wen.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Edwill van der Merwe, Ruan Venter en Ruan Dreyer. Doelskoppe: Jordy Hendrikse (3).

Dragons: Drie: Rio Dyer. Strafskoppe: Will Reed (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.