Lions laat die vreugdevure brand

Burger Odendaal. Foto: GB Jordaan.

“Hier gaan ons al weer,” het die meeste Lions-ondersteuners waarskynlik gedink toe die Johannesburgers sommer vroeg in die wedstryd twee agtereenvolgende lynstane teen Munster verloor het.

Fineen Wycherley se drie net vóór rustyd het verdere olie op dié gedagtevuur gegiet en die Ierse besoekers het ’n rustydvoorsprong van 21–10 geniet.

Maar waar Munster verlede naweek die krane teen die Bulls in die tweede helfte oopgedraai het, was dit nou die Lions se beurt om presies dieselfde met die besoekende span te doen.

Met ’n skitterende Burger Odendaal en Vincent Tshituka aan die stuur van sake het die tuisspan momentum begin opbou.

Jordan Hendrikse. Foto: GB Jordaan.

Hulle het nie geskroom om met die bal te hardloop nie, hulle het uitstekend geskrum en hul werkverrigting by die afbreekpunte was skielik tien keer beter as in die eerste 40 minute.

Wandisile Simelane het sy driedrukvaardighede uitgestal, terwyl Jordan Hendrikse se akkurate skopskoen vir Munster op die telbord gestraf het.

Die tuisspan het 13 onbeantwoorde punte in hierdie helfte aangeteken om die kragmeting met 23–21 te wen.

Die Lions se spel kan weliswaar nie vir die volle 80 minute met ’n goedgeoliede masjien vergelyk word nie, maar toe hulle eers aan die gang gekom het, was hulle soos ’n wegholtrein wat nie maklik gekeer kan word nie.

Dit is hul tweede agtereenvolgende oorwinning teen Europese teenstanders nadat hulle verlede naweek met Cardiff klaargespeel het.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Edwill van der Merwe en Wandisile Simelane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (2). Strafskoppe: Hendrikse (3).

Munster: Drieë: John Ryan, Josh Wycherley en Fineen Wycherley. Doelskoppe: Jack Crowley (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.