Lions wil in uitspeelwedstryde brul

Sanele Nohamba is een van die Lions se sterre. (Foto: GB Jordaan)

As die amptelike Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-punteleer met ʼn parkeerterrein vergelyk kan word, sal jy óf baie naby aan die ingang van die winkelsentrum moet stop óf jy sal bereid moet wees om ʼn entjie te stap.

Want daar in die middel rond is daar nie veel stilhouplek beskikbaar nie.

Die Lions is tans 11de met hul 39 punte ná 15 wedstryde, maar die Johannesburgers is slegs ses punte weg van die Stormers in die vyfde plek.

En met die uitspeelwedstryde om die draai het die Lions ʼn plek onder die voorste agt spanne in hul visier.

“Ons moet volpunte in ons volgende twee wedstryde [teen Cardiff en die Glasgow Warriors] kry. Ons topagtdroom is nog lewend en dit is iets waarvoor ons baie hard werk,” het Barend Pieterse, assistent-afrigter, gesê.

Die Johannesburgers kan ongetwyfeld met die topspanne in die reeks saamgesels, maar hul bestendigheid kniehalter hulle deurlopend in die toernooi.

Edwill van der Merwe en kie kan ongetwyfeld vir drieë sorg. (Foto: GB Jordaan)

Hulle het byvoorbeeld ʼn paar naweke gelede op ʼn drafstap met Leinster afgereken, net om die volgende week teen Munster in die hek te duik.

“Wisselvalligheid is een van die kenmerke van ons seisoen. Dán vuur ons op alle suiers en dán speel ons weer swak. Dit is iets wat indringend reggestel moet word; veral wanneer jy in die Kampioenebeker wil speel.”

Pieterse hou duim vas dat die Lions beter teen Cardiff sal speel as wat hulle in die nederlaag teen Munster gevaar het.

“Ons spel in die vaste fasette sal moet verbeter en ons moet hulle nie vir een oomblik met rus laat nie. Wanneer ons in hul doelgebied is, moet ons doodeenvoudig punte aanteken.”

Die naweek se bepalings vir die Suid-Afrikaanse spanne:

Vrydag:

20:35: Stormers teen Dragons

Saterdag:

14:00: Bulls teen Glasgow Warriors

16:05: Sharks teen Benetton

18:15: Lions teen Cardiff

VRK-punteleer (ná 15 wedstryde):

  1. Glasgow Warriors: 58 punte
  2. Leinster: 54 punte
  3. Munster: 53 punte
  4. Bulls: 51 punte
  5. Stormers: 45 punte
  6. Connacht: 44 punte
  7. Ulster: 44 punte
  8. Benetton: 44 punte
  9. Edinburgh: 43 punte
  10. Ospreys: 40 punte
  11. Lions: 39 punte
  12. Cardiff: 25 punte
  13. Sharks: 23 punte
  14. Scarlets: 17 punte
  15. Dragons: 16 punte
  16. Zebre: 15 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.