Marco en Ruan terug op Loftus

(Foto: GB Jordaan)

Hardebaarde soos Ruan Nortjé en Marco van Staden is terug in die Bulls-opdrafspan vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Glasgow Warriors op Loftus Versfeld.

Van Staden het voldoende herstel van sy kniebesering en hy sal saam met Cameron Hanekom en Elrigh Louw die lostrio vorm.

Kaptein Nortjé en Ruan Vermaak sal in die lynstane rank terwyl Akker van der Merwe in die middel van skrum gaan sak.

Agterlangs is daar oudergewoonte weer genoeg spoed en ervaring met Canan Moodie en Kurt-Lee Arendse die twee vleuels en Willie le Roux op heelagter.

David Kriel, wat onlangs aangedui het dat hy tot 2027 in Pretoria sal bly, is saam met Harold Vorster die senterkombinasie.

Die Bulls wil bitter graag in ʼn tuisuitspeelwedstryd speel en oorwinnings sal ongetwyfeld dié droom ʼn werklikheid maak.

Die Pretorianers het tans 51 punte op die amptelike punteleer, terwyl die Skotte (58 punte) tans die algehele voorlopers is.

Die wedstryd begin Saterdag om 14:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Willie le Roux (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), David Kriel (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Kurt-Lee Arendse (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Cameron Hanekom (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Ruan Vermaak (slot), Wilco Louw (stut), Akker van der Merwe (haker) en Gerhard Steenekamp. Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima, Francois Klopper, Reinhardt Ludwig, Nizaam Carr, Zak Burger, Jaco van der Walt en Devon Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.