Mening: Ligpunte, gevaartekens en swak bestuur

Foto: Odd Andersen/AFP.

Die vele dinge wat in 2020 in ons rugby gekrap het en ook dié wat hoop vir 2021 en daarná gee, is vandag in die kollig.

Twee uiters kontensieuse sake kry die aanvanklike aandag in hierdie artikel.

Kopbeserings en dagvaardings

Die erns van die toenemende aantal oudspelers wat vir skadevergoeding wil dagvaar vir kopbeserings uit hul speeldae en wat nou vroeë demensie tot gevolg het, is ernstiger as wat dit lyk.

Deurslaggewende toetse oor demensie kan glo slegs ná ʼn persoon se dood gedoen word, en dit is in Amerikaanse voetbal (NFL) gedoen. In rugby was daar nog nie ʼn nadoodse ondersoek nie, maar die simptome en toetse van spelers tot dusver stem ooreen met dié in die NFL waar demensie gediagnoseer is. Die voormalige rugbyspelers is aldus medici “in ʼn erge toestand”.

En erger: daar is nou meer stampe en stote met die meer wedstryde oor ʼn veel langer tydperk en veel ernstiger en meer doelgerigte oefeninge as 30 jaar of so gelede.

Daar was oor die Kersgety so ʼn effense swye oor die aangeleentheid. Maar dit is bekend dat die Britse prokureursfirma Rylands Law tans werk met ʼn groep van 110 rugbyspelers waarvan die jongste in sy mid-twintigs is.

Hulle tree ook op namens die 2003 Wêreldbeker-flank van Engeland, Steve Thompson, en die voormalige toetsspelers Alix Popham (Wallis) en Michael Lipman (Engeland) wat almal simptome van dimensie het. Thompson kan nie eens die 2003 Wêreldbeker-toets onthou wat deur sy span gewen is nie.

Rugby sal sekerlik ook belangrike reëlaanpassings moet maak soos by Amerikaanse voetbal. Daar is herhaalde kopstampe met kroniese, traumatiese enkefalopatie 

geassosieer, en die toenemend verergerende breinsiekte wat by die Amerikaanse voetbalspelers geïdentifiseer is, het tot reëlveranderings gelei.

SA se sukkelende rugbyunies

Nuweland-stadion (Argieffoto).

Tuis is daar die onvergenoegde en voortgesette ronddobber van die Westelike Provinsie in hul soektog om die toenemende aftakeling van dié eens trotse unie tot die huidige toestand, om te keer. Die bond hinkepink al die afgelope sowat vyf jaar onder die aanslae van bedenklike besluitneming, gebrekkige bestuursvermoë en geldnood.

Die ou-ou gesegde dat ʼn vis van sy kop af vrot, geld by heeltemal te veel van Suid-Afrika se 14 unies wat reeds vóór die Covid-19-pandemies op hul knieë was of binnekort sal wees. Hoe dit ons sukkelende rugby-skip vorentoe sal raak, kan ʼn mens maar net raai.

As dit nie vir die Valke Rugbyunie was wat tans vir finansiële ongerymdhede ondersoek word nie, sou mens kon sê dis ʼn kussiekte – vanaf Oos-Londen, setel van die Bulldogs, langs die kus af by die Oostelike Provinsie verby, die SWD Arende wat op George darem grootliks ná ingryping herstel het, tot by die Boland – met sy hoofkwartier weliswaar in Wellington, maar met ʼn groot aantal van sy klubs teen die Weskus-see.

SA Rugbyunie kan nie voortdurend soos ʼn ryk pa net aanhoudend sy sak skud om die skuld van sy verkwister-seuns te delg nie. Dis veral só wanneer van die unies se verkose ampsdraers boonop uit die karige geldkas maandeliks aansienlike “salarisse” trek terwyl die unie noustrop trek en spelerskontrakte nie nagekom word nie.

Van die unies is al gelikwideer of onder administrasie geplaas:

  • Net die SWD Arende het (in ʼn mate) herstel nadat sy beroepsbeen in Junie 2011 ná ʼn rits hofsake gelikwideer is. Vir dié herstel kan hulle dankie sê vir die werk deur wyle Johan Prinsloo, voormalige hoofbeampte van SA Rugby, wat destyds George toe gesekondeer is en die bond reggeruk het.
  • Die Grens Rugby-unie is in 2018 gelikwideer en vir twee jaar deur SA Rugby geskors. Hulle mag steeds met ontwikkeling en amateurrugby aangaan, maar het nie stemreg by SA Rugby se vergaderings en besluitneming nie.
  • By die Oostelike Provinsie, en sy beroepsfranchise die Southern Kings, is sake al jare in ʼn warboel weens die skade wat onder Cheeky Watson se wanbestuur aangerig is en toe deur die Greatest Rugby Company in the Whole Wide World (GRC), wat die bond en franchise die afgelope twee jaar finaal geknak het.

Isuzu se borgskappe, sowat R24 miljoen vanaf PRO14, lenings van die (bankrot) Nelson Mandelabaai-munisipaliteit en hulp van SA Rugby (aan die OP Rugbyunie) kon nie die opgehoopte skuldlas verminder nie.

Peter de Villiers. (Foto: Facebook).

Peter de Villiers sal as die nuwe OP-afrigter met ʼn klomp klubspelers die bond se naam in ere moet probeer herstel. Ongelukkig het die Watson-verrotting selfs die – nog onlangs stewige – klubkompetisie ook ontwrig en afgetakel.

  • Die beroepsbeen van die WP Rugbyunie is einde 2019 finaal gelikwideer. Sedertdien is daar ʼn onverkwiklike geskarrel om finansiering te bekom om skuldeisers te betaal en om die bond se beroepsrugby aan gang te hou.

Hoekom sukkel ons grootste rugbybonde so?

Dis onbegryplik dat die twee bonde met die meeste klubs in Suid-Afrika – die Westelike Provinsie en die Boland – so sukkel om finansieel kop bo water te hou. Boland het tog sekerlik meer talent tussen sy duisende spelers as om so voort te strompel in sy kompetisies, met spelers en beamptes wat gedurig aksies moet instel om betaal te word?

Die bond het ook (onder meer op ʼn WhatsApp-boodskap) laat glip dat dit oorweeg word om van sy bates te verkoop om ʼn R2 miljoen-lening van sy oudpresident Francois Davids (nou SA Rugby sy adjunkpresident) terug te betaal. Spelers en beamptes is links en regs laat loop sonder klagstate teen hulle …

En intussen het die BRU nog nie sy state ingedien wat by die jaarvergadering van 1 Maart 2019 voorgelê moes word nie. Die president Ivan Pekeur, wat net ná Kersdag oorlede is, het nie vir daardie jaarvergadering opgedaag nie.

Rugby-ligstraaltjie 1: Taai kompetisies

Nouja, die twee onderpresteerders hierbo genoem, die WP hoofsaaklik in die raadsaal, saam met die ander elf bonde wat in elk geval ook finansieel reeds voor die Covid-19-pandemie gesukkel het, moet nou sorg dat Suid-Afrikaanse rugby weer op provinsiale vlak sterk word. (Grens is tans geskors).

In dié opsig was daar darem twee ligstraaltjies te midde van ʼn voortgesette wêreldwye afname in toeskouergetalle wat selfs voor die pandemie waarneembaar was.

Die eerste is die instelling van die “saamgestelde” Super- en Curriebeker-kompetisie.

Foto: GB Jordaan.

Die land se beste spelers, benewens dié wat oorsee hul brood verdien, het ter plaatse gesorg vir twee taai kompetisies. Taai, baie taai, al was dit nie deurgaans die sprankelendste spel wat opgedis is nie. (Dít is immers nie waarvoor Suid-Afrikaanse rugby bekend is nie!)

Die onvermydelike gebrek aan toeskouers by die velde het natuurlik ook afbreuk aan die spel gedoen en ongelukkig was daar boonop die twee groot voorsienbare negatiewe aspekte: onttrekkings deur spelers en kansellering van wedstryde weens die pandemie.

Rugby-ligstraaltjie 2: Nuwe opkomende sterre

Daar wás darem tussendeur ook stukkies briljante spel, heelwat spanning in die gejaag na uitspeelplekke, met die vernaamste pluspunt moontlik die vele nuwelinge, en ander reeds minder bekendes wat die afgelope maande “deurgebreek” het en hulself aan die rugbyondersteuners bekendgestel het.

Jy kan nie help om te wonder hoe die Groen- en hul teenstanders, die Goud-span waarmee die seisoen afgeskop is, daar sal uitsien as die keurders nou weer so iets aanvang nie. Daar is heelwat nuwe talent!

Heelparty van hulle het uit die niet uit reeds huishoudelike rugbyname geword. Al is hulle natuurlik nie almal van internasionale gehalte nie, sal heelparty egter nog jare lank op Curriebeker- en ons nuwe plaaslike Superrugby-vlak sterk bydraes vir ons voorste spanne lewer; ander kan dit selfs op nasionale vlak doen, en dit sal Suid-Afrikaanse rugby sterk help hou.

Wat ʼn mens wel weet, is dat die diepte van ons rugby, ondanks al die veranderinge en uitdagings weens Covid-19, heelwat beter is as wat tydens die stagnante Curriebeker-reekse van die afgelope jare gesien is.

Miskien, wie weet, kan dié positiewe aspek toegeskryf word aan die feit dat die Blou Bulle/Bulls (Jake White), Leeus/Lions (Cash van Rooyen), WP/Stormers (John Dobson wat nou ook die Superrugby-span oorgeneem het), Sharks (Sean Everitt), Cheetahs (Hawies Fourie) en Griekwas (Scott Mathie), almal vanjaar nuwe afrigters het en dat Jimmy Stonehouse by die Pumas die enigste “ou” afrigter is. Van Rooyen het darem in 2019 ʼn proeseltjie Superrugby gehad.

Rugby-ligstraaltjie 3: Reënboog-reeks

Die tweede ligpunt is die uitnodiging na die sogenaamde Reënboog-reeks teen spanne van Wallis, Ierland, Skotland en Italië, al is dit voorlopig net ʼn tydelike

“kennismaking” met die vooruitsig van heeltydse deelname aan die verwagte nuwe, vergrote PRO16.

Die afskop van die Reënboog-reeks is op 17 April met die eindstryd op 19 Junie. Die vier Suid-Afrikaanse spanne wat sal deelneem, is die Bulls, die Stormers, die Lions en die Sharks. Hulle sal teen die 12 spanne van Ierland, Wallis, Skotland en Italië speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.