Meningstuk: Wie gaan Rassie opvolg?

Rassie Erasmus. (Foto: Twitter @Springboks)

Wie gaan Rassie Erasmus as Springbokafrigter vervang wanneer hy ná die Wêreldbeker-toernooi hom voltyds op sy hoofverantwoordelikheid as SA Rugby se direkteur van afrigting gaan toespits?

Die afgelope paar dae se aanstellings van afrigters, in Suid-Afrika en Nieu-Seeland, was nie net interessant nie, maar het ook twee uiteenlopende benaderings in perspektief gestel.

♦ Die Sharks het Vrydag ʼn nuwe Curriebeker-afrigter aangestel in die plek van Robert du Preez wat verlede jaar die Curriebeker gewen het. Sean Everitt was wel voorverlede jaar by die Sharks die agterlynafrigter, maar het toe in 2018 die o. 19’s afgerig.

Die skielike aanstelling gee Everitt weinig tyd vir voorbereiding. Die Sharks speel binnekort hul eerste Curriebeker-wedstryd teen Griekwas wanneer dié reeks op 12 Julie begin.

Hawies Fourie. Foto: Vrystaatse Rugby-unie.

♦ In teenstelling met hierdie halsoorkop-aanstelling het die Vrystaat, ook verlede week, vir Hawies Fourie as hoofafrigter aangewys. Hy sal egter eers vanaf einde Augustus, ná die Curriebeker-reeks, die leisels neem terwyl hy onder die uitgaande afrigter, Franco Smith, die kat uit die boom kyk.

Fourie het daarná dus sowat vyf maande om vir die Pro14-reeks voor te berei.

♦ Die All Blacks het twee of drie manne wat sterk staan om by Steve Hansen oor te neem. Dit lyk ook of New Zealand Rugby nou iets in die mou voer met hul insette in verlede week se aanstelling van Warren Gatland by die Chiefs. Gatland het in sy tien jaar by Wallis drie keer die Grand Slam gewen.

Hy is toestemming verleen om die Chiefs aanstaande jaar en dan weer in 2022 en 2023 af te rig. Hy kry 2021 af om die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika te brei.

Ingeligtes in Nieu-Seeland sê dit dui daarop dat hy die All Blacks-afrigter sal word met van die ander genoemde manne wat intussen sal instaan, maar dat Gatland reeds aanstaande jaar sy insette sal begin gee.

♦ Michael Cheika se opvolger by die Wallabies is egter nog ver van aangewys.

♦ Wallis se afrigter ná die Wêreldbeker is Wayne Pivac; Engeland sal weer deur Eddie Jones afgerig word; Ierland kry vir Andy Farrell om oor te neem by Joe Schmidt wat ook terug is Nieu-Seeland toe.

Die Franse se nuwe afrigter sal Fabien Galthié wees, Gregor Townsend bly by Skotland en Franco Smith neem oor as hoofafrigter van Italië.

Maar is daar al iemand geïdentifiseer om by Erasmus oor te neem? Weet die persoon al (nie-amptelik) daarvan? En belangrik: het ons iemand van Erasmus se insig, sy metodiese werkswyse en tegniese afrigtingsvermoë om hom te vervang?

Sukkelvertonings

Die sukkelvertonings van veral die Stormers en die Sharks, ondanks laasgenoemde se kwalifisering vir die kwarteindronde van die Superrugby-reeks, kan grootliks voor die kop gegooi word van een van : die gebrek aan opvolgbeplanning.

WP Rugby-wanorde

Robbie Fleck kán afrig, maar is vier jaar gelede in die pos ingedwing toe Eddie Jones as opvolger vir Allister Coetzee skielik die soveelste jakkalsdraai in sy loopbaan gemaak en die Stormers ná net ʼn week of so verlaat het. (Waarom is ʼn opvolger vir Coetzee nie al vroeër as Jones geïdentifiseer nie?)

Fleck was nie eens deel van die Stormers se afrigtingspan voordat hy uit die bloute van die o. 21’s af opgeroep is nie. (Hy was darem onder Allister Coetzee assistentafrigter voordat hy by die o. 21’s beland het.)

Die Stormers, of eintlik die beheerliggaam WP Rugby, het Fleck vroeg vanjaar al gesê hy maak klaar ná die einde van die seisoen en dat John Dobson by hom sal oorneem.

Hulle het dus met dié aanstelling darem gewys hulle het dalk uit hul foute geleer.

Sharks en ʼn lang geskiedenis

Die Sharks het hier van die 1990’s af, toe Ian McIntosh as Springbokafrigter aangestel is, rondgetrap. Die een ná die ander afrigter het oorgeneem, heelwat van hulle Springbokke van wie net Rudolf Straeuli al werklik op provinsiale vlak afgerig het.

Hugh Reece-Edwards, Kevin Putt en ook Dick Muir is slegs ʼn paar voorbeelde.

Muir, wat van Tuks af weggelok is, was nietemin suksesvol en sy assistent Plumtree het baie suksesvol by hom oorgeneem toe Muir assistentafrigter van die Bokke word.

Plumtree is kort ná die aanstelling van John Smit as uitvoerende hoof deur hom gepos.

Die ervare Jake White, Smit se mentor van o. 20 af tot en met die wen van die 2007 Wêreldbeker, is in Plumtree se plek nadergetrek. Smit en White het vasgesit en die voormalige hulpafrigter van die Springbokke, Gary Gold, is kort voor die 2015 Superrugby-seisoen aangestel. Hy het weinig sukses behaal, en Robert du Preez het in 2016 as Curriebeker-afrigter by hom oorgeneem.

Gold is ʼn maand later by die Sharks weg en Du Preez as hoofafrigter vir 2017 aangestel – sonder ervaring van afrigting op Superrugby-vlak.

Bly Du Preez aan vir die 2020 Superrugby-reeks? Indien wel, wie sal saam met hom ingespan word? Indien nie, wie moet hom opvolg?

Sy ervaring vergoed vir Pote se laat aanstelling

Dinge het die seisoen by die Bulls redelik glad verloop. Maar Pote Human is eers in Desember verlede jaar as afrigter aangestel nadat Vic Matfield besluit het hy gaan nie by John Mitchell oorneem nie.

Mitchell is in 2017 as Curriebeker-hoofafrigter gekontrakteer en het die leisels vir die 2018 Superrugby-reeks oorgeneem nadat Nollis Marais, goeie afrigter wat hy is, sonder die nodige ondervinding op Superrugby-vlak in Frans Ludeke se plek gesukkel het.

Human het egter uitgebreide ondervinding as afrigter en het, onder meer, die Curriebeker as afrigter by die Blou Bulle gewen en ook vir Mitchell as afrigter bygestaan. Dit was die Bulls se beste Superrugby-veldtog in nege jaar.

Johan Ackermann en Swys de Bruin, wat as hoofafrigter. (Foto Twitter)

Lions se opvolging goed

By die Lions was daar darem ʼn ervare assistentafrigter vir Johan Ackermann. Swys de Bruin het Griekwas, die Natal Wildebeeste (Vodacom-beker) en die SA o. 21-span afgerig en was vanaf 2013 die assistentafrigter onder Ackermann voor dié oorsee vertrek het.

Daar was wel die kontinuïteit van afrigters, maar die vertrek van heelwat spelers, meestal oorsee, het sukses die afgelope twee jaar laat wegbly.

Ackermann self het by John Mitchell oorgeneem nadat hy lank saam met die voormalige All Blacks-afrigter gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swartwolf ·

1). Kry ‘n wereld klas afrigter – Johan Ackermann, Nick Mallet, Warren Gatland of Eddie Jones.
2). Dump die vervloekte kwota sisteem – afrigter kies sy span net op meriete.
3). Stel ‘n regte leier as kaptein aan ‘n speler met dieselfde intelligensie, waardigheid en leierskap as Francous Pienaar of John Smit.

piet piet ·

Ek stem skrap die kwota wette gebaseer op velkleur dit is omgekeerde apartheid.

Pietman ·

Die kwota stelsel gaan oor meer as net om die span op meriete te kies. Die span kan 100% wit wees en nog steeds ‘n produk van die kwota stelsel wees. Die kwota stelsel word op o/13, o/16, o/18 , o/20 en provinsiale spanne ingestel.

kolla ·

Nick Mallet – hy ken sy storie, is beskikbaar, het baie ondervinding en is meer bekostigbaar as die oorsese ouens.. SARU hou egter nie van hom nie.

Boet ·

Ag kry sommer ou Otis Gibson, hy gaan seker nou na die proteas se vertoning sonder n job sit.

Andreas ·

En om hom ‘n regverdige kans op sukses te gee, skrap sommer kwotas van laerskooldae af.

Chris ·

Jacob Zuma…hy sal die wêreldbeker sommer koop met ń bribe.

Dorothy ·

Ek dink dis nou tyd vir ‘n Vroue Afrigter om die manne bietjie wakker te hou.

Dorothy ·

Ek dink dis nou tyd vir ‘n Vroue Afrigter om die manne wakker te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.