Morné se laaste skop

Argieffoto van Morné Steyn. (Foto: GB Jordaan.)

Morné Steyn het seker al derduisende rugbyballe op Loftus Versfeld geskop. Want as jy die dorpie van Sukses met jou loopbaanroete wil bereik, sal jy eers ʼn hele paar myl op die Harde Werk-grondpad moet kafdraf.

Die immergroen losskakel – wat oor ʼn maand sy 39ste verjaardag vier – sal Saterdag vir oulaas die Blou Bul-trui oor sy kop trek wanneer daar teen die Cheetahs op Loftus in ʼn belangrike Curriebekerstryd swaarde gekruis word.

“Die laaste skop” is hoe die wedstryd op sosiale media bemark word. En wie weet, dalk breek hy vir oulaas sy teenstanders se harte met ʼn komkommerkoel stelskoppoging in die doodsnikke van die kragmeting.

Want benewens die Britse en Ierse Leeus wat hy elke 12 jaar tem, was sy geleerde skopvoet ook al in die Verenigde Rugbykampioenskap die verskil tussen wen en verloor.

Steyn het verlede jaar in die 78ste minuut van die Bulls se kragmeting teen Edinburgh agter die skopkelkie aangetree en terstond die wedstryd vir sy span gewen.

Steyn laat waai met die regtervoet. (Foto: GB Jordaan)

Sy spanmaats (én teenstanders) weet teen hierdie tyd dat somme eintlik eenvoudig is wanneer die uurglas van ’n belangrike wedstryd leegloop: Strafskop + Steyn = drie punte.

As hy sy loopbaan op ’n soortgelyke wenskopnoot kan afsluit, sal dit die perfekte slotparagraaf van rugbyboek wees wat 21 suksesvolle seisoenhoofstukke bevat.

Vir Steyn moet dit ’n voorreg wees om sy loopbaan vir die Bulle op Loftus teen die Cheetahs af te sluit.

Hy is immers ’n Bloemfonteiner wat in die suksesvolle losskakel-voetspore van ’n Hansie Brewis en ’n Naas Botha in die Jakarandastad gevolg het.

“Toe ek destyds by die Bulle aangesluit het, was ek meer van ʼn aanvallende losskakel as iemand wat vir sy skopwerk bekend was. Ek het vinnig agtergekom wat harde werk alles behels; as ek op ʼn hoër vlak wou speel, sou ek aan my skoppe moes werskaf,” het Steyn gesê.

Hy het in 2021 uit internasionale rugby getree nadat hy 742 punte vir die Springbokke in slegs 68 wedstryde aangeteken het.

Om sy bydrae vinnig in perspektief te plaas: Suid-Afrika het 64,7% van die toetse gewen waarin Steyn gespeel het.

Om Morné Steyn se loopbaan op te som is eintlik eenvoudig: 10/10.

  • Die Curriebeker-wedstryd tussen die Blou Bulle en die Cheetahs begin Saterdag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kragaap ·

Legende na twee laaste twee britse en ierse leeus toere. Morras skop hom oor want Morras mis nie …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.