Ngcobo wil sewesveldtog regruk met dié spelers

Die Blitsbokke.  Foto: Twitter.

Drie spelers – Sebastiaan Jobb, Donovan Don en Ethan James – kan hul Blitsbok-buiging in die komende toernooie in Hongkong en Singapoer maak.

Don en James het al twee vantevore vir die junior Springbokspan uitgedraf, terwyl Jobb reeds geruime tyd in die nasionale sewesvisier is.

Dan is Shaun Williams, Tiaan Pretorius en Travis Ismaiel ook weer deel van die groep, maar die span sal Sondag steeds sonder die dienste van Selvyn Davids, Ronald Brown, Dewald Human, Justin Geduld en Jaiden Baron na Asië vertrek.

“Ek glo ons het die sterkste groep spelers moontlik vir hierdie belangrike toernooie gekies en ek is opgewonde om te sien wat die nuwe spelers op die veld kan doen,” het Sandile Ngcobo gesê.

Die Blitsbok-afrigter is beslis onder druk nadat hy die leisels by Neil Powell oorgeneem het. Die span is tans sewende op die HSBC-punteleer ná ʼn rampspoedige toer van Noord-Amerika.

“Ons het beslis harde lesse in Los Angeles en Vancouver geleer, maar dit is nou iets van die verlede. Ons is opgewonde oor die nuwe avontuur wat in die Verre Ooste wag.”

Volgens Ngcobo is dit die groep se doelwit om die seisoen onder die topvierspanne af te sluit.

“Ons glo in ons spelers en ons weet dat hulle hul veerkragtigheid en veggees volgende week ten toon sal stel.”

Die Blitsbokke se groepteenstanders is Ierland, Nieu-Seeland en Kenia. Ja-nee; dinge kan dus óf heel oukei verloop, óf baie verkeerd.

  • Bepalings van die Hongkong-sewestoernooi:

31 Maart:

09:04: Suid-Afrika teen Ierland

1 April:

05:04: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

09:25: Suid-Afrika teen Kenia

Blitsbok-groep: Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Shakes Soyizwapi (kaptein), Mfundo Ndhlovu, Christie Grobbelaar, Shaun Williams, Travis Ismaiel, Ricardo Duarttee, Ethan James, Sebastiaan Jobb, Tiaan Pretorius en Donovan Don.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.