Nog baie skop in die 39-jarige Ruan Pienaar

Ruan Pienaar. (Foto: Johan Pretorius/Gallo Images/Cheetahs/Facebook)

Ruan Pienaar het al baie belangrike straf- en doelskoppe vir die Vrystaat-Cheetahs, Sharks en Haaie, Ulster, Montpellier en in 88 toetse vir die Springbokke oorgeklits.

Hy het 135 punte vir die Bokke aangeteken, 840 punte vir Ulster, 161 vir Montpellier, 501 vir die Sharks en Haaie en meer as 400 punte vir die Vrystaat-Cheetahs.

Maar min doodsnik-strafdoele soos in Saterdag se Curriebekerwedstryd tussen die Cheetahs en Griekwas in Bloemfontein was vir die toeskouers meer genotvol.

Giekwas was in die 80ste minuut nog met 29-26 voor toe hulle skuins duskant die middellyn oortree het.

Die 39-jarige Pienaar het komkommerkoel aangelê pale toe, die bal oorgeklits en gesorg dat die wedstryd met 29-29 gelykop eindig.

Van emosie was daar nie veel sprake nie, want Pienaar het byna nog nooit emosie getoon nie, net soos sy vlugvoetige pa, Gysie Pienaar.

Maar wanneer dit saak maak, kan jy op sy knoppie druk.

Die gelykop uitslag beteken dat die Vrystaat-Cheetahs drie ligapunte verdien het en nog net een punt in twee wedstryde kort om seker van hul afspraak in die uitspeelrondes te maak.

Dit het ook die deur op ʼn skrefie vir Griekwas oopgehou om tot die uitspeelrondes deur te dring.

Dit gaan die volgende twee weke ʼn baie groot gespook afgee tussen Griekwas, die Westelike Provinsie, Blou Bulle en Leeus om te bepaal watter spanne derde en vierde sal eindig.

Soos in menige derbywedstryde voorheen het Griekwas uit hul velle gespeel en aanhou verdedig, met Hanru Sirgel heel vooraan en die ewe komkommerkoel George Whitehead wat agterlangs die argitek was.

Die Cheetahs se baldraers, soos Gideon van der Merwe, Friedle Olivier, Sibabalo Qoma, Victor Seketete en Louis van der Westhuizen, was prominent, terwyl Pienaar die kitaar agter geslaan het.

Puntemakers: Vrystaat-Cheetahs 29 (19) Drieë: Siba Qoma, Cohen Jasper, Marnus van der Merwe, Gideon van der Merwe. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafdoel: Pienaar.

Griekwas 29 (23) Drieë: Janco Uys, Dylan Sjoblom. Doelskoppe: Lubabalo Dobela (2). Strafdoele: Dobela (3), George Whitehead (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.