Noord teen Suid kry dalk nuwe baadjie

Die Springbokke vier hul oorwinning op Twickenham. Foto: Iang Kington/AFP.

Wêreldrugbybase het glo op ʼn meesterplan ooreengekom wat sal toesien dat Noordelike en Suidelike Halfrond-spanne mekaar elke twee jaar in ʼn groot eindstryd aanvat.

Dié splinternuwe rugbybaadjie behoort teen 2026 gereed te wees om aan te trek.

Luidens ʼn berig in die Britse koerant The Telegraph sal ʼn voorafgaande liga tussen twee groepe van ses spanne elk beslis word. In die een groep sal die Sesnasies-lande probeer om die Noordelike Halfrond se stempel af te druk, terwyl die Springbokke saam met Nieu-Seeland, Australië, Argentinië, Fidji en Japan hul spiere vir die Suidelike Halfrond sal bult.

Die beste span in elke groep sal dan swaarde in die eindstryd kruis.

Volgens die beoogde struktuur sal ʼn span uit die Noordelike Halfrond in Julie drie wegwedstryde teen Suidelike Halfrond-teenstanders speel. Dit beteken dat die tradisionele reeks van twee of drie toetse teen dieselfde land iets van die verlede is.

In dieselfde asem sal ʼn Suidelike Halfrond-vyftiental weer in November – met die einste teenstanders wat hy vroeër aangevat het – in Europa kragte meet.

Daar word ook planne beraam om lande soos Georgië, Samoa en Tonga deel van die aksie te maak en ʼn promosie/relegasie-formaat kan vanaf 2030 geïmplementeer word.

Belanghebbendes het die versekering gegee dat die veranderinge nie die Wêreldbeker-toernooi se kollig sal steel nie en dat dit as die “Stryd van die Halfronde” bemark sal word.

The Telegraph berig dat die liga ook geen invloed op die Britse en Ierse Leeus-toere sal hê nie. Dit kan egter ʼn stokkie voor die Springbokke se planne steek om deel van die Sesnasies-opset te word.

“Suid-Afrika het aangedui dat hy daarin belangstel om in die Sesnasies te speel, maar dit was nooit deel van ons gesprekke nie,” het ʼn bron aan die publikasie gesê.

“Daar is reeds oor die fundamentele kwessies ooreengekom en belangrike dinge soos die struktuur van die seisoen en spelerwelvaart is reeds uitgestryk. Ons is nou net besig om ʼn paar onafgehandelde kommersiële sake uit te sorteer, maar daardie samesprekings is ook al in ʼn gevorderde stadium.”

As alles volgens plan verloop, behoort die nuwe liga in die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk onthul te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.