‘Ons het Deon gemis’

Deon Fourie het ’n barshou in die vorige wedstryd teen Harlequins gespeel. (Foto: Hansie Linde.)

Die Stormers-afrigter, John Dobson, het erken dat Deon Fourie se afwesigheid ʼn groot leemte in die span vir hul belangrike uitspeelwedstryd teen die Exeter Chiefs gelos het.

Die Kapenaars het met 42 – 17 in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker op Sandy Park verloor en hulle het veral in die eerste helfte gesukkel.

“Ek wil nie verskonings soek nie, maar ons het glad nie probeer om die bal op die grond te steel nie en Exeter het vinnige balbesit geniet. Ja-nee, ons het Deon gemis. Hy sou beslis sake vir hulle bemoeilik het,” het Dobson gesê.

Die 36-jarige Fourie het ʼn oogkasbesering opgedoen en hy kan vir ʼn hele paar weke op die kantlyn wees.

“So ʼn besering beteken dat ʼn speler vir tot agt weke op die krukkelys kan wees, maar Deon is ʼn taai kalant. Dalk is ons gelukkig en is hy vir slegs vier weke nie beskikbaar nie.”

Daar is darem ʼn silwer randjie om die donker beseringswolk: Evan Roos behoort binnekort weer op alle suiers te vuur.

Die sterk losvoorspeler sukkel sedert Januarie met ʼn kniebesering, maar hy kan sommer volgende week weer sy verskyning op die veld maak.

“Evan is volgende week terug en dit is baie belangrik vir ons met die Verenigde Rugbykampioenskap wat einde se kant toe staan. Hy sal of op die plaasvervangersbank teen Munster wees, of vir die Curriebekerspan speel.”

Dobson meen dat Fourie en Roos se samespel dalk die speelveld ʼn bietjie meer gelyk teen Exeter sou kon maak.

“Dit klink dalk soos ʼn verskoning, maar as jy vir Deon Fourie het om die bal ʼn bietjie stadiger te maak en vir Evan Roos met sy fisieke spel, kon dinge dalk anders gelyk het. Exeter het egter uitstekend gespeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.