Oud-Durbaniet help Amerika punterekord slaan

Shaun Davies (Foto: PRO Rugby USA)

Shaun Davies (Foto: PRO Rugby USA)

`n Gewese Durbaniet het geen geringe aandeel daarin gehad nie dat Amerika Saterdag die meeste punte dusver in `n toets teen Kanada aangeteken het.

Die groot sege van 51-34 (rustyd 25-15) deur die Arende, wat deur `n gewese afrigter van die Lions en Goue Leeus, John Mitchell, gebrei word rig eweneens `n waarskuwing aan die Argentynse Vyftiental, die heersende kampioen, en wat dusver as die gunsteling beskou is om weer die reeks te wen.

In Saterdag se ander wedstryde het die Argentyne in Talcahuano, Chili, 45-10 met die tuisspan klaargespeel, en Uruguay het Brasilië in Maldonado, Uruguay, 23-12 geklop vir sy eerste sege in vanjaar se reeks.

Shaun Davies (skrumskakel), wat in Durban gebore is, het 13 van die Arende se punte met vyf doelskoppe en `n strafdoel behaal.

Die telling in die Swangard-stadion in Burnaby, Brits-Columbië, oortref dié van 41-23 wat Amerika in 2015 in Ottawa behaal het, en die Yanks se vyf opeenvolgende oorwinnings is insgelyks die meeste dusver.

Een van Amerika se sewe drieë (eweneens `n rekord) is deur Todd Clever (flank en kaptein), `n gewese Lions- en Goue Leeuspeler, gedruk.

Driekuns

Mike Te’o (heelagter) het `n driekuns behaal en die res is deur Ryan Matyas (regtervleuel), Anthony Purpura (loskopstut) en John Quill (plaasvervanger-flank) gedruk.

Will Magie (losskakel) het `n strafdoel bygedra.

Vir Kanada het Taylor Paris (linkervleuel) sy driekuns van verlede week teen Chili met `n tweekuns opgevolg. Die ander drieë is deur Phil Mack (skrumskakel), George Barton (plaasvervanger-linkervleuel) en Admir Cejvanovic (agsteman) gedruk.

Robbie Povey (losskakel) het een verdoel en met `n strafdoel geslaag, en Gordon McRorie (plaasvervanger-skrumskakel) het twee verdoel.

Ander puntemakers –

Uruguay 23 (15) – Drieë: Diego Ayala (slot), Ignacio Dotti (slot), Alejandro Nieto (agsteman), Santiago Arata (skrumskakel). Strafdoel: Germán Albanell.

Brasilië 12 (6) – Strafdoele: Moisés Duque (binnesenter) 4.

Chili 10 (3) – Drie: Rodrigo Fernández (heelagter). Doelskop: Francisco González Moller (plaasvervanger-losskakel). Strafdoel: Jorge Castillo (losskakel).

Argentynse Vyftiental 45 (12) – Drieë: Juan Cappiello (buitesenter en kaptein), Fernando Luna (heelagter), Nicolás Solveyra (loskopstut), Bautista Delguy (plaasvervanger-regtervleuel), Bruno Devoto (binnesenter) 2. Doelskoppe: Juan Cruz González (losskakel) 3, Fernando Luna 3. Strafdoele: Juan Cruz González.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.