Oudkaptein staan nou Eddie se skoene vol

Die voormalige Engeland-kaptein, Steve Borthwick, is as die Rose se nuwe afrigter aangestel. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Steve Borthwick, die voormalige Engeland-kaptein, is as die Rose se nuwe hoofafrigter aangestel. Hy het al vantevore as die voorspelerafrigter onder Eddie Jones gedien.

Jones, wat met sy wenrekord van 73% as Engeland se suksesvolste afrigter nóg beskou word, het twee weke terug die trekpas as die nasionale breier gekry.

Die 43-jarige Borthwick se speler- en afrigtersrekord sorg vir indrukwekkende leesstof: Hy het amper 250 keer vir Bath uitgedraf, terwyl hy 144 wedstryde vir Saracens gespeel het. Op die internasionale verhoog het hy 57 keer die Engeland-trui oor sy kop getrek, terwyl hy in 21 toetse die span op die veld gelei het.

As afrigter was hy ook ’n lid van Jones se breierspan toe die Aussie aan die stuur van Japan was, terwyl hy vir die afgelope twee jaar waardevolle ervaring as Leicester Tigers se hoofafrigter opgedoen het.

Nodeloos om te sê is Engeland se rugbybase in hul noppies om vir Borthwick terug in die nasionale opset te kry.

“Ons is baie opgewonde om vir Steve weer deel van ons planne te maak. Hy was vir jare deel van die Engeland-span en hy was ons gunstelingkeuse om Eddie se skoene vol te staan,” het Bill Sweeney, uitvoerende hoof van Engeland se rugbyunie (RFU), gesê.

Borthwick het ʼn kontrak van vyf jaar onderteken en hy wil sommer met die intrapslag sy stempel afdruk.

“Daar is ongelooflike rugbytalent in Engeland en ek wil die boublokke vir ʼn wenspan in plek kry. Dit is my mikpunt om die hele land trots op ons te maak en ons ondersteuners moet dit geniet om ons in aksie te sien,” het die nuwe nasionale afrigter gesê.

Hy is in die plek van Eddie Jones aangestel. Foto: Ian Kington/AFP.

Volgens Borthwick begin die beplanning vir die Sesnasiesreeks en die Wêreldbeker-toernooi sommer reeds vandag.

“Dit is ʼn groot eer en ek is ongelooflik trots op my aanstelling. Tog weet ek dat trots bloot ʼn bysaak is as ons nie met goeie vertonings vorendag kom nie.”

Hy wil ook toesien dat Twickenham weer die sterk fort van Engelse rugby word. Die Rose het hul laaste wedstryd op dié ikoniese stadion met 27 – 13 teen die Springbokke verloor.

“Ons openingswedstryd van die Sesnasiesreeks (teen Skotland) is juis op Twickenham en ek wil die toeskouers harder as ooit hoor saamgesels wanneer die ouens op die veld uitdraf. Ons werk as ʼn span en my werk as afrigter is om vir ons ondersteuners ʼn rede te gee om fees te vier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.