Owen sê ook Schalk is ’n taai kalant

Suid-Afrika se Schalk Burger. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Wanneer oorsese rugbyspelers gevra word om ’n lys van hul taaiste teenstanders op te stel, duik Suid-Afrika se Schalk Burger se naam gereeld op.

Owen Farrell is die jongste internasionale ster om die Springbokke se man van staal vir sy fisieke spel uit te sonder.

“In ’n rugbyspeler se loopbaan speel ’n mens teen ’n hele paar ongelooflike fisieke spelers, maar ek het nog nooit iemand teëgekom wat sy lyf so gereeld op die spel soos Schalk Burger plaas nie. Hy kan net heeldag aanhou,” het Farrell in ’n onderhoud met Ruck.co.uk gesê.

All Blacks-sterre soos Dan Carter en Liam Messam het ook al vantevore Burger se lof besing.

“Kyk, Schalk was ’n taai kalant. Ek het gewonder of my All Blacks-trui dalk ’n teiken gehad het, want hy het net heeltyd vir my gekom,” het Carter destyds op Newstalk ZB gesê.

Die 38-jarige het ook die voormalige Bok-yster se werketiek geloof.

“Hy sou byvoorbeeld in ’n hengse stryd met ons pak voorspelers gewikkel wees, maar hy het net nooit moed opgegee nie. Hy was ’n fisieke speler met ongelooflike krag.”

Op sy beurt het Messam gesê dat Burger ook sterk leierseienskappe getoon het.

“Ek dink Schalk was in baie opsigte amper die Bokke se geestelike en emosionele leier. Hy het dalk nie die besluite op die veld geneem nie, maar hy was ongetwyfeld die leier op die rugbyslagveld.”

Burger het in 86 toetse vir die Springbokke gespeel, terwyl hy as deel van die Stormers se Superrugby-opset ook teen Messam se Chiefs kragte gemeet het.

“’n Mens kon sien wanneer hy ’n ongelooflike lopie of ’n klipharde duikslag uitgevoer het, het die hele Bok-span weer in hulself begin glo.”

Burger is deesdae deel van die SuperSport-span en hy is gereeld in die kol met sy raakvat-ontleding van die spel.

Farrell se taaiste teenstanders:

Jonny Wilkinson (Engeland), Stuart Hogg (Skotland), Beauden Barrett (Nieu-Seeland), Schalk Burger (Suid-Afrika) en Johnny Sexton (Ierland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Schalk is is ook ‘n uitstekende ontleder van die spel. Hy praat met insig en gesag voor en na wedstryde. Blyk ook baie nederig te wees.

piet ·

Ook baie gewild plaaslik en oorsee. Hy is net ‘n lekker ou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.