Pollard maar weer Farrell se tier

Leicester Tigers se Handré Pollard. (Foto: X/Leicester Tigers)

Handré Pollard het weer eens met ʼn stervertoning vorendag gekom in Leicester Tigers se oorwinning van 19 – 10 teen Saracens op die Welford Road-stadion.

Die Springbok-losskakel was in die kol met twee stelskoppogings – sy laaste doelskop het die wedstryd finaal buite die bereik van Owen Farrell se Saracens geplaas – terwyl hy ook met sy visie op die veld beïndruk het.

Sy skerpskutter-aangee in die 61ste minuut van die wedstryd het vir regtervleuel Harry Simmons in die hoekie weggestuur.

Volgens RugbyPass het Pollard dit geniet om weer met Farrell kragte te meet, terwyl hy soos ʼn wafferse veldmaarskalk die toutjies op Welford Road getrek het.

“Hy was strate beter as die sukkelende Farrell en sy puik aangewerk in die aanloop tot Simmons se drie was die kersie op die koek,” was die rugbywebblad se raakvatopsomming.

Die 29-jarige Suid-Afrikaner se suksesvolle strafskoppoging in die 78ste minuut van die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Farrell se Engeland het toegesien dat die Springbokke die kragmeting met 16 – 15 beklink het.

Daarteenoor was dit maar ʼn slegte week vir Saracens.

Benewens die nederlaag teen die Tigers – dit is die derde keer in vier wedstryde waar hulle as die verloorders van die veld stap – is daar ook gerugte dat kaptein Farrell binnekort vir Racing 92 in Frankryk kan speel.

Midi Olympique het Vrydag berig dat die 32-jarige losskakel dit glo oorweeg om ʼn kontrak van twee jaar met die Paryse klub te sluit.

  • Puntemakers:

Leicester Tigers: Drieë: Dan Kelly, Matt Rogerson en Harry Simmons. Doelskoppe: Pollard (2).

Saracens: Tom Parton. Doelskop: Owen Farrell. Strafskop: Farrell.

  • Spanne:

Leicester Tigers: Freddie Steward, Harry Simmons, Dan Kelly, Solomone Kata, Mike Brown, Handré Pollard, Tom Whiteley, Jasper Wiese, Tommy Reffell, Matt Rogerson, Ollie Chessum, George Martin, Joe Heyes, Julian Montoya (kaptein) en James Cronin. Plaasvervangers: Finn Theobold-Thomas, Francois van Wyk, Will Hurd, Harry Wells, Kyle Hatherell, Olly Cracknell, Ben Youngs en Jamie Shillcock.

Saracens: Tom Parton, Rotimi Segun, Elliot Daly, Nick Tompkins, Lucio Cinti, Owen Farrell (kaptein), Gareth Simpson, Ben Earl, Juan Martin Gonzalez, Theo McFarland, Hugh Tizard, Maro Itoje, Christian Judge, Kapeli Pifeleti en Sam Crean. Plaasvervangers: Theo Dan, Logovi’i Mulipola, Ollie Hoskins, Nick Isiekwe, Andy Christie, Ivan van Zyl, Manu Vanipola en Alex Lewington.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.