Pukke laat wiel in Pretoria

Die NWU-Pukke het Tukkies weg van die huis geklop. Foto: GB Jordaan.

Wat gaan aan in Bulls-wêreld?

As die Curriebekerspan nie sleg teen die Pumas verloor nie, dan val die Verenigde Rugbykampioenskap-groep teen die Lions vas. Gisteraand het Tukkies hul vierde nederlaag op ʼn streep gely toe hulle teen die NWU-Pukke in Pretoria verloor het.

Die eindtelling was 26–22 in die Potchefstromers se guns.

  • Puntemakers:

NWU-Pukke: Drieë: Tino Swanepoel (2), Keano Windvogel en Theuns Pretorius. Doelskoppe: Zinedine Robinson (2).

Tukkies: Drieë: Allister Williams, Lincoln Daniels en Ethan Burger. Doelskop: Walter Visser. Strafskop: Visser.

Maties wen puntefees teen Wits

Die Universiteit van Witwatersrand (Wits) het so byna-byna ʼn reuseagterstand teen Maties in Johannesburg uitgewis, maar toe die eindfluitjie blaas, was dit die besoekers wat die kragmeting met 56–54 gewen het.

Maties het ʼn lekker voorsprong van 40–19 in die eerste helfte opgebou en hulle het waarskynlik gedink dat hulle hierdie wedstryd op ʼn drafstap sou wen.

Tog het die tuisspan uitstekend terugbaklei en hulle het vier drieë gedruk toe die spel hervat is. Jurie Matthee het egter die tweestryd vir die besoekers met sy stelskoppoging beklink.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Siyabonga Ngubelanga (2), Matthew van Schalkwyk, Grant de Jager, Waqar Solaan en Maselino Pooe. Doelskop: Jurie Mathee. Strafskoppe: Mathee (4).

Wits: Drieë: Azi Afrika (2), Wernich Aucamp (2), Mark Snyman en Lindo Mcusane. Doelskop: Gerswin Mouton. Strafskop: Mouton.

Ikeys swaai die septer in Kaapstad

Ikeys het waardevolle punte ingeoes toe hulle die Shimlas met 29–12 in Kaapstad getroef het. Die tuisspan het vier drieë gedruk teenoor die twee van die besoekers.

Die Kapenaars het ʼn goeie voorsprong van 24–0 opgebou en hoewel die Vrystaters hul bes gedoen het om ʼn terugvegpoging van stapel te stuur, het Ikeys net te veel skietgoed gehad.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Rethabile Louw, Brian le Roux, Kyle Lamb en Lezane Davis. Doelskoppe: Ntokozo Makhaza (3). Strafskop: Makhaza.

Shimlas: Drieë: Kwezi Dlamini en Frank de Reis. Doelskop: Ethan Wentzel.

Ixias oorrompel UJ

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT Ixias) is besig om sy stempel dubbel en dwars op die toernooi af te druk nadat hy gisteraand met die Universiteit van Johannesburg (UJ) weg van die huis klaargespeel het.

Die Bloemfonteiners het sewe drieë gedruk om die wedstryd met 54–12 te wen.

  • Puntemakers:

Ixias: Drieë: Ricoman Titus (3), Zachary Bester (2), Jacobus Cloete en Matthew Sekele. Doelskoppe: Tyler Sefoor (6). Strafskop: Sefoor.

UJ: Drieë: Peter Pohlmann en Prince Nkabinde. Doelskop: Jonathan Viljoen.

  • Punteleer:
  1. NWU-Pukke: 17 punte
  2. Ixias: 15 punte
  3. Maties: 14 punte
  4. Wits: 12 punte
  5. Ikeys: 11 punte
  6. Shimlas: 10 punte
  7. UJ: 7 punte
  8. Tukkies: 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.