Pukke op hul stukke teen Shimlas

Die NWU-Pukke het nege drieë teen die Shimlas gedruk. Foto: Twitter.

Die NWU-Pukke, of die Arende soos wat hulle deesdae bekendstaan, het met een van hul beste vertonings nóg teen die Shimlas vorendag gekom.

Die Potchefstroomse studente het die kragmeting met 63 – 16 op die Fanie du Toit-sportterrein gewen om volpunte vir hul spogvertoning te verdien. Hulle is tans eerste op die punteleer met tien punte.

Die Shimlas het egter die sterkste begin toe Michael Annies binne die eerste minuut van die wedstryd deur die tuisspan se verdediging gebars het. Dit was egter daarna eenrigtingverkeer en die Pukke het nege drieë gedruk.

  • Puntemakers:

NWU: Drieë: Theuns Pretorius (2), Keano Windvogel (2), Vernon Paulo, Naiden Jaarts, Armin Posthumus, Jandré de Beer en Ruben du Plessis. Doelskoppe: Zinedine Robinson (4) en Martin Venter. Strafskoppe: Robinson (2).

Shimlas: Drieë: Michael Annies en Renier Viljoen. Doelskoppe: Ethan Wentzel (2).

Bloemfonteiners maak amok in Stellenbosch

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT) het vir ʼn tikkie geskiedenis gesorg toe hulle slegs die vyfde Varsitybekerspan ooit geword het om die Maties op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch te klop.

Die tuisspan was vroeg op die agtervoet toe hulle twee geel kaarte gekry het en hoewel hulle probeer het om daarna ʼn terugvegpoging te loods, het hulle steeds die wedstryd met 23 – 19 verloor.

Om dinge net vinnig in perspektief te plaas – CUT het nie een van hul vorige kragmetings in Stellenbosch met minder as 40 punte verloor nie.

  • Puntemakers:

CUT: Drieë: Tokelo Ntaopane en Asekho Marubelela. Doelskoppe: Tyler Sefoor (2). Strafskoppe: Sefoor (3).

Maties: Drieë: McKyle Volmoer, Francois Beytenbach en Ammaar Burton. Doelskoppe: Jurie Matthee (2).

Verdedigende kampioenspan verloor in die Kaap

Tukkies, die verdedigende kampioenspan, het sy tweede nederlaag op ʼn streep gely toe hy met 40 – 19 teen Ikeys in Kaapstad vasgeval het.

Die Kapenaars se Ntokozo Makhaza was sy span se groot ster en benewens sy ses suksesvolle stelskoppogings, het hy ook twee drieë gedruk.

Tukkies beklee tans die laaste plek op die amptelike punteleer.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Ntokozo Makhaza (2), Alex Castle, Jason McLeod-Smith en Duran Koevort. Doelskoppe: Makhaza (3). Strafskoppe: Makhaza (3).

Wits wen stryd van die Johannesburgers

Wits het op hul tuisveld die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 35 – 33 geklop. O ja, die Witwatersrand-manne het ʼn rustydagterstand van 30 – 0 uitgewis om dié een te wen.

Die tuisspan het boonop die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk – jip, UJ gaan waarskynlik nog vir ʼn paar dae aan bomskok ly.

  • Puntemakers:

Wits: Drieë: Ziyanda Masipa (2), Kyle van Eyssen en George Devenish. Doelskoppe: Christian Humphries (4).

UJ: Drieë: Philip Apea-Adu, Prince Nkabinde, Rowan Malgas en Likhaya Tengimfene. Doelskop: Jonathan Viljoen. Strafskop: Viljoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Wie sal nou glo dat die Ixias Maties op Stellenbosch sou klop en Tukkies kry ook sommer groot pakslae. Dit is fantasties dat die ander spanne wat gewoonlik aan die agterspeen suig in die kompetisie so goed vaar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tuks se koshuisspanne van die 1970s en ’80s sou al hierdie spanne geklop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.