Pure Puk-geluk in Varsity-finaal!

Die NWU-Pukke het die Varsitybeker gewen. (Foto: Twitter/Varsitybeker)

Dit was later ʼn naelbyt affêre, maar die NWU-Puk is die Varsitybeker-kampioenspan vir 2023 nadat hy Ikeys in Potchefstroom met 27 – 25 getroef het.

Die tuisspan – wat die groepfasewedstryde oorheers het – het aanvanklik ʼn gemaklike voorsprong van 20 – 9 opgebou. Vernon Paulo het twee drieë gedruk, terwyl die gevaarlike Tino Swanepoel ook sy stem dik gemaak het.

Maar dié is ʼn Ikey-span wat verlede week op ʼn drafstap met die Shimlas in Bloemfontein afgereken het en hulle het ʼn groot terugvegpoging in die tweede helfte van stapel gestuur.

Die Kapenaars het die telbord aan’t rol gehou en die telling was skielik 20 – 18.

Swanepoel se tweede drie het gesorg dat die tuisspan se ondersteuners weer ʼn bietjie rustiger kon asemhaal, maar Jac van der Walt se poging het weer die spreekwoordelike Ikey-kat in die Puk-duiwehok losgelaat.

Die voorsprong wat die Pukke in die eerste helfte opgehou het, was uiteindelik net te groot en die vreugdevure het hoog in Potchefstroom gebrand.

  • Puntemakers:

NWU-Pukke: Drieë: Vernon Paulo (2) en Tino Swanepoel (2). Doelskoppe: Zinedine Robinson (2). Strafskop: Robinson.

Ikeys: Drieë: Reynhardt Crous en Jac van der Walt. Doelskoppe: Ntokozo Makhaza (2). Strafskoppe: Makhaza (3).

  • Spanne:

NWU-Puk: Tino Swanepoel (heelagter), Keano Windvogel (regtervleuel), Theunis Pretorius (buitesenter), Vincent Phatudi (binnesenter), Naiden Jaarts (linkervleuel), Zinedine Robinson (losskakel), Sylvester Hassien (skrumskakel), Gustav Erlank (agtsteman), Karl-Heinz Bertram (flank), Chris Vermaak (flank), Wihan Nel (slot), Stephan Krugel (slot), Ruan Swiegers (stut), Vernon Paulo (haker) en Ruben du Plessis (stut).

Ikeys: Duran Koevort (heelagter), Rethabile Louw (regtervleuel), Joshua Boulle (buitesenter), Kyle Lamb (binnesenter), Ntokozo Makhaza (linkervleuel), David Hayes (losskakel), Asad Moos (skrumskakel), Laro Delport (agtsteman), Kyle Ndiao (flank), Siphumezo Dyonase (flank), George van der Westhuizen (slot), Reynhardt Crous (slot), Bryan le Roux (stut), Keagan Blanckenberg (haker) en Luthando Woji (stut).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vonny ·

Vrek trotssss op ons Pukke!
Mooi gespeel.
Awesome atmosphere van crowd!!

Kokkies ·

Welgedaan Pukke. Dit was n finaal uit die boeke waar enige span kon gewen het. Dankie ref vir n wedstryd wat heeltyd aan die gang gebly het, jy het goed geblaas. Ja, daar was ook foute, maar geen ref kan 100% blaas en als sien nie.
Hulle sê verdediging wen wedstryde, ek het gesien dat die Pukke op n stadium 139 duikslae uitgeoefen het en net 16 gemis. Ikeys het die Pukke met die hele bus gegooi maar kon nie die muur van verdedeging breek nie. Ikeys kan hulle koppe hoog hou, ongelukig moet daar n verloorder wees.
Varsity beker is gesond en vol goeie rugby.
Shimlas, trek op julle sokkies, soek julle in die finaal volgende jaar.

Frank ·

Na twee weke gelede se 42-25 vir die Puk teen die Ikeys, was hierdie ‘n WARE finaal!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.