Rooi Drake wil meer byt as Leeus hê

Josh Adams begin op linkervleuel vir Wallis teen die Springbokke. (Kyodo News via AP)

Wallis sal hierdie naweek sy bes doen om nie in dieselfde slaggat as die Britse en Ierse Leeus teen die Springbokke te trap nie.

Die Leeus het tydens hul Suid-Afrikaanse safari eerder probeer om Siya Kolisi se span fisiek te oordonder – ’n benadering wat selfs deur spelers in die span gekritiseer is.

Hoewel Wayne Pivac (Wallis-afrigter) meen dat die Leeus eintlik oor die vermoë beskik het om die Springbokke te klop, sal die Rooi Drake ’n bietjie meer avontuurlustig op die veld wees.

“As een of twee beslissings in die Leeus se guns was, sou hulle waarsynlik met die reekslouere weggestap het. Maar ons probeer om nie baie aandag daaraan te skenk nie – dit was immers ander spelers en ander afrigters wat daarby betrokke was,” het Pivac gesê.

Volgens die 59-jarige afrigter (wat in Nieu-Seeland gebore is) het Wallis sy eie manier van speel en hulle volg ’n spesifieke benadering met die oog op die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi in 2023.

“’n Mens moet kyk om meer punte aan te teken, dus sal ons beslis probeer om ’n bietjie meer aanvallende rugby as die Leeus te speel.”

Intussen sal die 36-jarige Alun Wyn Jones ook Wallis se Sesnasies-veldtog misloop nadat hy sy skouer in verlede naweek se wedstryd teen die All Blacks beseer het.

Tog meen Pivac dat die veteraanslot deel van Wallis se Wêreldbekerplanne sal bly.

“Daar skort niks met sy vertoning op die veld óf sy voorbereidingswerk nie. Ek is ook daarvan oortuig dat hy binnekort sy 150ste toets vir Wallis sal speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.