Rugby: Curriebekerreeks begin heel belowend

(Foto: GB Jordaan)

Die oud-Springboklosskakel Naas Botha het altyd gesê dat die Curriebeker nie in Meimaand gewen word nie.

Botha, wat die argitek van die meeste oorwinnings van die Blou Bulle in die reeks was, was heel reg wanneer sy span ʼn paar slaggate vroeg in die seisoen getref het, want die Ligbloues het keer op keer voortgegaan om in September of Oktober uit die Curriebeker te drink.

Vanjaar se reeks, wat oor ʼn dubbelronde tussen agt spanne uitgespook word met die groeprondes wat op Saterdag 10 Junie eindig, sluit ook die Griffons van Welkom in nadat hulle verlede jaar daarvoor gekwalifiseer het, maar tereg vir twee seisoene verskans is om behoorlik op dreef te kom.

(Foto: Toyota Cheetahs/Twitter)

Die reeks het Vrydag in Kimberley afgeskop toe die Vrystaat-Cheetahs ʼn oorwinning van 42-19 oor Griekwas behaal het.

Daar was Saterdag op Kingspark in Durban ook oorwinnings vir die Sharks oor die Griffons (32-19), waarna die Westelike Provinsie op Ellispark in Johannesburg die Leeus met 44-28 getroef het.

Die Pumas, verlede jaar se kampioenspan, en die Bulle speel Sondagmiddag op Loftus Versfeld.

Dit gaan weer ʼn opdraande stryd vir die sogenaamde kleintjies wees, veral as hulle teen die franchise-spanne speel wat hul Curriebekerspanne met spelers laai wat ondervinding in die Verenigde Rugbykampioenskapreeks het.

Die speelveld sal net gelyk wees wanneer daardie spelers nie beskikbaar is nie.

Wat ook ʼn groot rol gaan speel, is of die sogenaamde kleintjies hul dissipline kan behou.

Die Griffons het byvoorbeeld drie geel kaarte teen die Sharks gekry en dit het hul kragte getap.

Ook sal die spelersdiepte onder die loep kom.

Spanne soos die WP, Leeus, Bulle en Sharks het ʼn gros spelers om vanuit te kies as beserings sou opduik.

Die tempo waarteen al drie wedstryde gespeel is, was heel hoog. Die vaardighede was ook goed en so ook die spelers se fiksheid.

Ja, die Griffons se fiksheid het in die tweede helfte teen die Sharks gelol, maar gee kans, dit kan binnekort reggestel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.