Rugbykampioenskap: All Blacks verswelg die Poemas

Matias Moroni van Argentinië (regs) systap Nieu-Seeland se Ardie Savea by die Malvinas Argentinas-stadion in Mendoza, Argentinië (8 Julie 2023) (Foto: Andres Larrovere/AFP)

Wanneer enige rugbyspan drie drieë binne die eerste 12 minute druk en rustyd reeds met 31-0 voorloop, kan die hane maar gaan kraai.

Dit het die All Blacks Saterdagaand in die volgepakte Estadio Malvinas-stadion in Mendoza gewys toe hulle die Argentynse Poemas met 41-12 oorrompel het.

Nadat die Springbokke vroeër in die dag die Wallabies met 43-12 op Loftus Versfeld afgeslag het, het die druk op die All Blacks opgelaai om die Bokke dit na te doen.

Die All Blacks het positief daarop gereageer, sewe puik drieë gedruk en die Poemas voorlangs oorheers.

Daar was baie goeie tekens vir die All Blacks, maar nou verskuif alle aandag na die Mt Smart-stadion in Nieu-Seeland waar die Springbokke en All Blacks mekaar komende Saterdag in die tweede ronde van die Rugbykampioenskap pak.

Die All Blacks se agterspelers was vuurwarm teen die Poemas met die spelskepper Damian McKenzie (losskakel) wat die toutjies getrek het. Maar kan die All Blacks teen die Springbokke met ’n stelskopper waag wat net met drie uit sewe pogings pale toe geslaag het?

Gaan hulle nie eerder op Beauden Barrett (hy het heelagter teen die Poemas gespeel) of Richie Mo’unga terugval nie?

Voorlangs het die All Black-voorspelers die Poemas opgefrommel en veral in die skrums slae gegee.

Maar gaan dit ook so maklik teen die Bokke wees?

Dis reeds duidelik dat skrums (en gepaardgaande strafskoppe) ʼn baie groot rol by vanjaar se Wêreldbekertoernooi speel. Het die All Blacks werklik stutte wat kan oorheers en het die Poemas nie net boedel oorgegee nie?

Onthou dat die Poemas nie soos die Nieu-Seelanders in die Super Rugby Pacific-reeks of soos Suid-Afrika in die Europese reeks gespeel het nie.

Hulle kort dus wedstrydoefening op ʼn hoë vlak.

Wat ook in die Springbokke se guns behoort te wees, is dat ʼn groot groep spelers wat teen die All Blacks gaan uitdraf, reeds in Nieu-Seeland is om voor te berei. Daarteenoor vlieg die All Blacks eers Sondag (met ʼn baie groot tydsverskil) huis toe.

Waar die Springbok-afrigters Jacques Nienaber en Rassie Erasmus ʼn vars span teen die All Blacks gaan inspan, sal die All Black-afrigter, Ian Foster, noodgedwonge spelers soos die meeste van die drie Barrett-broers (Beauden, Jordy en Scott), Rieko Ione, Aaron Smith, Sam Cane en Ardie Savea, wat teen die Poemas gespeel het, teen die Bokke inspan.

Maar hoe sê hulle nou weer? Die bewys is in die smaak van die poeding.

Punte: Nieu-Seeland 41 (31): Drieë:  Dane Coles, Ardie Savea, Jordie Barrett, Rieko Ioane, Aaron Smith, Beauden Barrett, Emoni Narawa. Doelskoppe: Damian McKenzie (3).

Argentinië 12 (0): Drieë: Julian Montoya, Agustin Creevy. Doelskop: Emiliano Boffelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Komende Saterdag se vroeg opstaan stryd teen die NZ Allblacks gaan harder wees as wat ons verwag , veral na die gemak waarmee ons die Aus Wallabies kon klop. Oorgerustheid is al dekades lank , die oorsaak van onverwagse nederlae op die rugbyveld. Maar natuurlik hoop ons almal dat die Bokke gaan wen , al is dit net met 2 punte op die telbord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.