Saracens se held: Bokke se weeskind

Schalk Brits – hy groet. (Foto: Laureus)

Die veteraanhaker Schalk Brits se drome om vir oulaas vir die Springbokke te speel, is by die venster uit.

Dit volg nadat Bongi Mbonambi Sondag in Oudtshoorn sy suksesvolle terugkeer ná ʼn langtermynbesering (gebarste blindederm) vir die Westelike Provinsie in die Supersportreeks teen die SWD Arende gemaak het.

Mbonambi sal na alle waarskynlik in die Stormers se groep vir Saterdag se Superrugbywedstryd teen die Lions op Nuweland wees. Met Malcolm Marx op die beseringslys, sal hy, Akker van der Merwe, Franco Marais, Scarra Ntubeni, Robbie Coetzee en Adriaan Strauss (as hy beskikbaar is) straks voor hom in die tou staan wanneer Rassie Erasmus Saterdag sy Springbokgroep vir die komende toetswedstryde teen Wallis en Engeland bekend maak.

Is hulle almal beter as Brits, wat amper hul oupa kan wees?

Brits, wat Saterdag op Twickenham in sy laaste wedstryd vir Saracens in die eindstryd van die Engelse Premierliga teen Exeter Chiefs speel, kan tereg die weeskind van Suid-Afrikaanse rugby genoem word.

Dis omdat hy te veel natuurlike talent het, te begaafd vir ʼn vaste voorspeler is. Hy het nie sy gelyke nie wanneer dit by swenke, systappe en lyfswaaie kom – en dis wat teen hom getel het.

Druk jou kop in die skrum, vertraag balle op die grond, moet net nie rondhol nie.

Ai, hoe sou hy nie gedy het onder Johan Ackermann by die Lions en nou onder John Mitchell by die Bulls nie?
Brits het tussen 2008 en 2015 in net tien toetse vir die Bokke gespeel (hy was net een keer in die opdrafspan), maar dit moes baie meer gewees het.

Ja, hy moes in sy goue jare meeding met Bokysters soos John Smith en Bismarck du Plessis, wat baie goed onder Jake White, Peter de Villiers en Heyneke Meyer gevaar het.

Brits het vroeg in sy loopbaan aan die agterste speen in die Westelike Provinsie gesuig en dis hoekom hy na Johannesburg verhuis het. Hy het 35 keer vir die Goue Leeus en in 11 Superwedstryde vir die Cats gespeel voordat hy teruggekeer het Kaap toe, en toe na Saracens in Londen verhuis het.

Daar is beweer dat sy skrumwerk onder verdenking is – maar in tien toetse, 63 Superwedstryde, 75 wedstryde vir die Leeus en die WP en in 155 wedstryde vir Saracens?

Ja, in sy tweede (en enigste toets teen die All Blacks) het Carl Hayman en Anton Oliver hom byna katswink geskrum, maar was dit net sy skuld?

Brits (nommer 91) was verlede jaar een van net vyf Suid-Afrikaners wat deur die gesaghebbende tydskrif Rugby World tussen die wêreld se 100 beste rugbyspelers in 2017 geag is. Die res was Malcolm Marx (35), Siya Kolise (43), Duane Vermeulen (76) en Kwagga Smith (99).

Nou groet hy rugby met net tien toetse agter sy naam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

willie ·

Rassie kan maar kies wie hy ookal voorgeskryf word, ons gee nie meer ñ vlenter om nie! Met al die politieke inmengery kan hulle maar op hul herrie kry wie gee nog om?

Charles ·

Willie, ek voel net so. Wie gee om. Ek gaan R900 n maand spaar.

Johnna ·

STEM SAAM MET DIE ALMAL DIT IS NIE MEER DIE BESTE SPAN WAT SPEEL NIE ,HOEKOM NOG TYD MORS OM DIT TE KYK.ONGELUKKIG HET POLITIEK ALLES NET OPGEVOETER RUGBY SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE.OM VAN DIE NARSTREKE WAT IN DIE ATELJEE PLAASGEVIND HET NIE EERS TE PRAAT NIE,GELUKKIG HET EK GOEIE HERINNERINGE VAN GOEIE RUGBY JARE GELEDE.

Pieter ·

SA Rugby is dood. Die stadions sal al hoe leër word tot niemand meer gaan opdaag nie. Die goeie spelers sal kontrakte in die buiteland kry, maar ons sal hulle nie meer kan sien nie want dstv sal die rugbykanaal OOK aan sokker gee. Dis tyd vir kompetisie teen dstv, maar ons liewe micky mouse regering sal dit ook nie toelaat nie.

Pieter ·

Die Bok span sal slegs n WARE Bok span wees, wanneer hulle vir Japan kan wen. Tot dan moet hul nie eers n Bok span genoem word nie, eerder n blom of plant soort, soos bv Die Kakiebos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.