Saru gee SA se beeld as rugbyland prys

Die SA Rugbyunie (Saru) se optrede herinner al hoe meer aan dié van die onbeholpe Spaanse ridder met die brandmaer perd wat teen die windmeulens geveg, en verloor het toe ʼn meulvlerk hom van sy ryding afgeklap het.

Vir diegene wat glo Saru het ʼn klap van die windmeul weg, is die jongste aankondiging dat die Pumas en Griekwas voorkeur vir deelname aan tussenvastelandse reekse sal kry “indien die geleentheid hom voordoen” nóg water op die meul.

Dis lank reeds ʼn ope geheim dat bogenoemde twee spanne “franchise-status” sou kry. Die reeks om die Anglo-Walliese Beker (AWB) is as bestemming gesmous.

Die versigtig bewoorde “indien die geleentheid hom voordoen” laat dit lyk of die tweetal nie met sulke ope arms as wat gehoop is deur die AWB aanvaar is nie.

Die aanduiding dat die onderhandelingsproses “heel waarskynlik tot diep in 2018” sal duur, is só teenstellend met Saru se holderstebolder bestorming van die Pro14-reeks, dat dit bogenoemde vermoede versterk.

Hierdie verdere verwatering van die eens trotse Curriebekerreeks bou voort op Saru se oënskynlik nimmereindigende reeks mistastings soos sy onvermoë om politiekery uit rugby te weer; sy gesukkel om deurslaggewende besluite te neem soos, byvoorbeeld, die tydige aanstelling van bekwame afrigters vir nasionale spanne; sy geploeter om selfs net die bepalings van die Curriebeker- en verwante reekse behoorlik uit te werk; sy onvermoë om behoorlik na amateurrugby, die sluitsteen van ontwikkeling, om te sien – alles simptome van ʼn gebrek aan leierskap.

Dis wat die geldkraantjie toedraai; wat die borge laat huiwer (ʼn klinklare mosie van wantroue in die heersende rugbybase); wat ʼn land soos Australië laat vra of Suid-Afrika sy TV-geld uit die Superrugbyreeks werd is.

Troefkaart?

Met die totstandkoming van Sanzaar en Superrugby was Suid-Afrika se sterk Curriebekerreeks een van sy troefkaarte in die bepaling van die SA beheerliggaam se ruim aandeel uit die TV-regte. Wat kan hy nou op die tafel plaas? Ja, nie eens ʼn gerespekteerde Springbokspan nie.

Die Cheetahs en die Kings is reeds uit Superrugby gesit. Hulle is halsoorkop in die Europese Pro12-reeks geprop, wat toe die internasionale Pro14-word.

Die Cheetahs voeg waarde daartoe, die Kings allermins.

Hoe lank gaan die Pro14-organiseerders laasgenoemde duld? En as die Kings (wat vanjaar nie eens goed genoeg vir die Curriebeker was nie) weer sonder heenkome sit, beteken dit soos met die verlies van hul Superstatus opnuut ʼn uitvaart van spelers buiteland toe?

Dit laat nóg vrae reën.

Prysgawe

Waaruit spruit Saru se beheptheid met deelname aan tussenvastelandse reekse? ʼn Mens bespeur dit nie juis by die ander voorste rugbylande nie.

Hoe mededingend sal die res van ons spanne in sulke geselskap wees?

Gaan die geldelike inspuiting werklik die hoër koste regverdig? Sal die “armer” franchise’e die geld hê om spelers te behou en behoorlike diepte te vestig?

Of is dit die soeke na ander weivelde bloot ʼn erkenning deur Saru van sy onvermoë om plaaslik erosie teen te werk en weer ʼn lewenskragtige, gerespekteerde en mededingende Curriebekerreeks te bedryf?

Feit is: Dis ʼn verdere prysgawe van Suid-Afrika se beeld as rugbyland, en op die oog af die finale nekslag vir die Curriebekerreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Hendrik ·

Dis maar alles deel van die ANC se strategie om die Afrikaner se kultuur af te breek.

Uiltjie ·

MAROELA, kan julle nie vir SARU vra om weer die rugbybal onder die Springbok embleem te plaas ( teken ) nie? Op die oomblik lyk dit asof die arme dier oor niks of in die wind spring.

Niel ·

nou gaan dit neerkom op die spelers self, en plaaslike provinsies om so ver wat hulle kan spelers te borg, al is dit net vir petrol/mediese uitgawes (mediese fonds) Verder moet dit neerkom op spelers vrywillig soos met klubrugby rugby speel vir die liefde vir rugby. Plaaslike besighede waar die spelers werk kan bv hulle spelers grasie gee met korter werksure op oefendae, en so kan rugby weer rugby wees. op die oomblik is die spelers bietjie blind met al die top spelers wat miljoene maak. So, die voorstel dus is – as die curriebeker “toegemaak” word, laat dit weer begin soos hoe dit was in die beginjare – keer terug na oorspronklike resep.. hmmm

Veritas ·

Nie net ‘n finale nekslag vir die Curriebekerreeks nie maar ook vir SA rugby. ‘n Gesonde, mededingende Curriebekerreeks is, en was nog altyd die ruggraat van SA rugby. Vandat ons betrokke geraaak het by die sogenaamde Superrugbyreekse, het SA rugby agteruitgegaan tot die gemors wat dit tans is.

Callie ·

Dalk, net dalk gaan SA se spelers gedwing word om weer rugby te speel vir die liefde wat hulle al die jare voor dit gedoen het. Die jare toe die curriebeker koning was. Toe die. BESTES van elke provinsie mekaar aangevat het. Toe paviljoene oorvol was. Toe manne mekaar om braaivleis vure aangevat het. Toe Noord/Suid wedstryde soos wereldbeker eindstryde was. Alles loop leeg met die politiek van vandag

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.