Sesnasies: Wallis gee houtlepel aan Italië

(Foto: Guinness Six Nations/Twitter)

Basta met die houtlepel, Wallis se rugbyspan wil niks daarmee te doen hê nie.

Wallis, wat 20 jaar laas laaste in die Sesnasies-reeks was, het dit op die rak geplaas deur Italië met 29-17 in Rome te klop nadat hulle teen rustyd reeds met 22-3 voor was.

Dit beteken dat Italië dalk weer laaste in die Sesnasies-reeks sal wees.

Die Rooi Drake het helaas vuur geblaas nadat hulle verlede jaar met 22-21 deur Italië in Cardiff geklop is.

Dit was toe die Azzurri se eerste oorwinning nadat hulle ʼn verloordroogte van 36 opeenvolgende wedstryde beleef het.

Wallis het Saterdag na ʼn hoër rat oorgeskakel om ʼn bonuspuntsege te behaal.

Italië, wat goeie rekenskap van homself teen Frankryk, Engeland en Ierland gegee het, het weer indruk gemaak, maar kon nie al die Walliese aanvalle die hoof bied nie.

Hulle het nie afgesien van hul avontuurlike wedstrydplan nie en verdien ondanks die nederlaag ʼn paar kloppe op die skouer.

Dit sal jammer wees as hulle na hul ou patroon, om eintlik maar die telling so laag as moontlik te probeer hou, terugval.

Hulle het vernuwing in Italiaanse rugby gebring, een waarop Benetton in die Verenigde Rugbykampioenskap voortbou.

Hulle lok die toeskouers in hul duisendtalle na hul tuiswedstryde en dit beteken baie vir die opgang van Italiaanse rugby, veral op voetsoolvlak.

Die Walliesers se vertoning was ʼn riem onder die hart vir hul ondersteuners. Die afrigter, Warren Gatland, het ʼn klomp jongelinge ingespan en daar was nuwe passie en energie.

Dit het die vonk by  ervare spelers soos Taulupe Faletau, Liam Williams, Rhys Webb, Ken Owens en Justin Tipuric aangesteek.

Wallis het vier drieë (een was ʼn strafrdrie) gedruk – een meer as in hul vorige drie wedstryde saam.

Punte: Wallis 29 (22): Drieë : Rio Dyer, Liam Williams, strafdrie (7 punte), Taulupe Faletau. Doelskoppe: Owen Williams (2). Strafdoel: Williams.

Italië: 17 (3): Drieë: Sebastian Negri, Juan Ignacio Brex . Doelskoppe: Tommaso Allan (2). Strafdoel: Allan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.