Sewes in Vancouver, sooibrand vir Blitsbokke

(Foto: @blitzboks/Twitter)

Nog ʼn Blitsbokdroom lê aan skerwe nadat Argentinië laat Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Vancouver die Blitsbokke met 12-0 in hul laaste groepwedstryd in Groep B geklop het en tot die kwarteindronde van die Kanadese sewestoernooi deurgedring het.

Nadat die Blitsbokke Vrydagaand met 19-19 teen Frankryk gelykop gespeel het en Japan met 40-12 geklop het, het hulle en Frankryk saam tweede in Groep B geëindig, maar die Franse het vroeër ʼn oorwinning van 46-5 oor Japan behaal wat daartoe gelei het dat hul punteverskil beter as dié van die Blitsbokke was.

Die rustydtelling in die wedstryd tussen die Blitsbokke en Argentinië was 0-0. Suid-Afrika het in die eerste helfte genoeg besit gehad, maar ʼn paar duikslae gemis en hul hantering en aangeë was nie suiwer nie.

Die Argentyne het die seël op die wedstryd geplaas met twee drieë ná rustyd deur Marcos Monate en German Schulz wat die Blitsbokke laat ontspoor het.

Die Blitsbokke was voor die toernooi saam met die Argentyne met 86 punte nog saam tweede op die puntelys, gevolg deur Fidji (84), maar nadat die Blitsbokke uitgeskakel is en Frankryk en Fidji albei tot die kwarteindronde deurgedring het, sal hulle bo die Blitsbokke op die puntelys inskuif.

Die Blitsbokke kon dié seisoen nog net die Dubai-toernooi wen, terwyl hulle teleurgestel het in Hongkong, Hamilton, Los Angeles en nou ook in Vancouver.

Puntemakers: Argentinië 12 (0): Drieë: Marcos Moneta, German Schulz. Doelskop: Joaquin Pellandini. Suid-Afrika 0.

* So speel die spanne in die kwarteindronde: Nieu-Seeland t Australië; Frankryk t Brittanje; Ierland t Amerika; Fidji t Argentinië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Hierdie arme Blitsbokke verswak tans by die dag , en sal binnekort sidder om teen Kenya op te draf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.