Sewesreeks: Blitsbokke leer Fidji ʼn duur les

(Foto: Blitsbokke/ Twitter)

Die Blitsbokke het Sondagoggend tot die eindstryd van Wêreldrugby se sewesreeks in Sydney deurgedring toe hulle Fidji ʼn les in die halfeindstryd geleer het.

Die Blitsbokke was skitterend op dreef en het met 31-12 gewen nadat hulle rustyd met 17-0 voor was.

Die Blitsbokke speel (om 11:26) teen Nieu-Seeland in die eindstryd wat Frankryk met 36-5 in die ander halfeindstryd oorrompel het.

Daar is vooraf gedink dat die veel groter Fidjiane die veel kleiner Blitsbokke sou oordonder.

Maar toe trap hulle in hul eie slaggat deur fisiek te probeer oorheers in plaas daarvan om op hul sterk punte te konsentreer.

Dit het begin met ʼn vryskop direk ná die afskop toe die Fidjiane ʼn skrum verkies het om die Blitsbokke fisiek te oorheers.

Maar dit het geboemerang toe Fidji nie die bal kon beheer nie. Vandaar het dinge skeefgeloop, want die vaardige Blitsbokke het met hul avontuurlustige spel en skitterende verdediging die Fidjiane heeltemal onkant betrap.

Fidji het nie enige planne gehad om Shilton van Wyk, Jaiden Barron, Darren Adonis en Ricardo Duarttee hok te slaan nie, terwyl Impi Visser teen Zain Davids voorlangs hul man deeglik gestaan het.

Punte: Suid-Afrika 31 (17): Drieë : Shilton van Wyk (2), Dalvon Blood, Jaiden Baron, Darren Adonis. Doelskoppe: Ricardo Duarttee, Shaun Williams (2). Fidji 12 (0): Drieë: Iowane Teba, Viwa Naduvalo. Doelskop: Naduvalo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.