Sharks oorgehaal om te wen, ondanks Etzebeth-terugslag

Die Sharks se Eben Etzebeth. (Foto: Romain Perrocheau/AFP)

Die Sharks verwag ʼn fisieke tweestryd wanneer hulle vandag weg van die huis teen Toulouse in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker speel.

Hulle sal egter sonder Eben Etzebeth moet klaarkom.

Die Springbok-slot se skouerbesering is toe ernstiger van aard as wat aanvanklik gehoop is en Neil Powell het bevestig dat die voorspeler vir tot 14 weke langs die kantlyn kan wees.

“Ek glo nie hy gaan hierdie seisoen weer vir ons speel nie, maar hy sal beslis gereed wees vir die Wêreldbeker-toernooi,” het die Sharks se direkteur van rugby gesê.

Neil Powell. (Foto: Romain Perrocheau/AFP.)

Volgens Powell is dit inderdaad ʼn reuseterugslag om Etzebeth aan ʼn besering af te staan; hy gee immers die Sharks se pak voorspelers aansienlik meer byt.

“Ja, dit is baie sleg dat so iets net voor die kwarteindstryd moes gebeur het, maar dit gee weer vir ʼn ander speler die geleentheid om te wys wat in hom steek.”

Emile van Heerden is op die krukkelys nadat hy ook sy skouer teen Munster beseer het en Hyron Andrews sal nou saam met Gerbrandt Grobler in die lynstane vir die Sharks rank.

“Kontinuïteit is belangrik wat spankeuses betref en dit sou goed gewees het as ons op so ʼn manier nog ʼn bietjie momentum saam met ons na Frankryk kon neem, maar ons moes noodgedwonge ʼn paar veranderinge maak.”

Lukhanyo Am. (Foto: GB Jordaan.)

Die talentvolle Grant Williams sal in Jaden Hendrikse – wat ook ʼn skouerbesering teen Munster opgedoen het – se plek die nommernegetrui dra, terwyl Lukhanyo Am en Rohan Janse van Rensburg ʼn gevaarlike senterkombinasie is.

Am het juis in aanloop tot die wedstryd beloof dat die Sharks in Frankryk is om rugby te speel, en nie om tweede viool teen Toulouse te speel nie.

Die wedstryd begin om 16:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Boeta Chamberlain (heelagter), Werner Kok (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Rohan Janse van Rensburg (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Vincent Tshituka (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Gerbrandt Grobler (slot), Hyron Andrews (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Ntuthuko Mchunu, Jeandre Labuschagne, Phepsi Buthelezi, Cameron Wright, Ben Tupuai en Thaakir Abrahams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.