Springbok Koch kom huis toe

Vincent Koch. Foto: GB Jordaan.

Vincent Koch kom as’t ware huis toe wanneer hy ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi sy Stade Francais-trui wegbêre om die Sharks sʼn aan te trek.

Die 33-jarige voorryman is in Empangeni gebore – net twee uur se ry van Durban – terwyl sy vrou ook van dié stad afkomstig is.

“Ek het huis toe gegaan en gesien hoe baie my seun dit geniet om by sy ouma en oupa te wees. Ek was vir die afgelope sewe jaar weg van my familie en ek het hulle én my land gemis,” het Koch gesê.

Die Springbok, met 41 toetse agter sy naam, speel sedert 2016 sy klubrugby in Europa en vóór sy tydelike Franse avontuur het hy vir Saracens uitgedraf terwyl hy ook deel van die insolvente Wasps-opset was.

Hy vertel dat Eben Etzebeth ook ʼn rol gespeel het om hom in Durban te kry.

“Siya [Kolisi] het vir Eben na die Sharks gelok, terwyl Eben op sy beurt weer my pad gelyker gemaak het. My Springbok-spanmaats het beslis my besluit aansienlik makliker gemaak.”

Koch het juis in 2019 die Webb Ellis-trofee saam met Kolisi en Etzebeth omhoog gehou toe hy as plaasvervanger sy verskyning op die veld in die eindstryd teen Engeland gemaak het.

Die Sharks-bestuur glimlag waarskynlik ook baie breed; Koch is die perfekte plaasvervanger vir Thomas du Toit wat binnekort sy tasse vir Bath pak.

“Die Sharks gaan ʼn leemte op vasskopstut hê en hulle het vir my ʼn geleentheid gegee. Hulle het gesê dat hulle my in Durban wil hê en ek is baie gelukkig om by hulle aan te sluit.”

Só lyk Koch se loopbaanstatistieke:

Die stut van 118 kg het in 2015 sy Springbok-buiging teen die All Blacks op Ellispark gemaak; ’n wedstryd wat die Suid-Afrikaners met 27 – 20 verloor het.

Die Springbokke het 24 van die 41 toetse gewen waarin hy gespeel het en hy het veral sy stempel as ’n lid van die befaamde Bomb Squad afgedruk.

Sy laaste internasionale toets was verlede jaar teen Italië toe die Springbokke die tuisspan met 63 – 21 verrinneweer het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.