Springbokke gerat vir koeler Paryse weer

Die Springbokke speel vanaand in wit truie teen Ierland in Parys. (Foto: Twitter/Springbokke)

Die hittegolf in Frankryk het plek vir die tradisionele herfsreënbuie gemaak en die Springbokke sal vanaand op ʼn veel koeler Stade de France kragte teen Ierland meet.

Tog is die Suid-Afrikaners oorgehaal om hul beste in sonskyn, wind en selfs reën in ʼn Wêreldbeker-toernooi te gee.

Volgens Mzwandile Stick het die Bokke se klipharde voorbereidingswerk hulle gereedgemaak om enige uitdaging op die rugbyveld te probeer tem; selfs iets so wispelturig soos die weer.

“Dit was baie warm toe ons in Toulon was en ons geniet nou die koeler omstandighede in Parys. Maar selfs toe ons in Korsika vir die toernooi voorberei het, het ons met nat rugbyballe geoefen in ʼn poging om reënweer na te boots,” het die assistent-afrigter gesê.

Hy het bygevoeg dat die Kaap ook vir die Bokke ʼn aanpashupstoot gegee het.

“ʼn Mens moet ook onthou dat jy soms in stede soos Kaapstad en Gqeberha vier seisoene in een dag sien. Die ouens is gewoond aan die toestande. Hulle is voorbereid.”

Die belangrike Groep B-wedstryd begin vanaand om 21:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (stut) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Marco van Staden, Kwagga Smith en Cobus Reinach.

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Mack Hansen (regtervleuel), Garry Ringrose (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Johnny Sexton (losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Caelan Doris (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Peter O’Mahony (flank), James Ryan (slot), Tadhg Beirne (slot), Tadhg Furlong (stut), Ronan Kelleher (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Dan Sheehan, David Kilcoyne, Finlay Bealham, Iain Henderson, Ryan Baird, Conor Murray, Jack Crowley en Robbie Henshaw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.