Springbokke: Is Retallick in of uit?

Brodie Retallick (Foto: Youtube.com)

Kopspeletjies … dis wat nou in Japan gespeel word voordat die Wêreldbeker-rugbytoernooi Vrydag in Tokio begin met die Springbokke en die All Blacks wat sake Saterdag in Jokohama uitspook.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sal waarskynlik geen verandering aan die span bring wat Japan verlede Vrydag met 41-7 geklop het nie, maar die Bokkamp verwag dat die All Blacks ʼn haas uit die hoed gaan pluk.

Die All Blacks het Dinsdagoggend in Tokio se hitte geoefen, maar soos dinge deesdae gaan, is die media net vir die eerste tien minute toegelaat en kon die joernaliste niks daaruit wys word nie.

Spelers oor wie se fiksheid daar effe kommer bestaan, soos Sonny Bill Williams, George Bridge en Richie Mo’unga, het geen teken van hul beserings getoon nie, of altans nie tydens opwarming nie.

Die grootste belangstelling was die vordering van die slot Brodie Retallick, wat ʼn paar weke gelede in Wellington sy skouer beseer het nadat hy deur RG Snyman uit ʼn losskrum disnis geloop is.

Retallick het sedertdien nog nie weer gespeel nie en die All Blacks mik daarna om hom eers oor twee weke teen Italië te kies.

Een van die Springbokke se hulpafrigters, Matthew Proudfoot, het by Dinsdagoggend se nuuskonferensie geskimp dat Retallick dalk teen die Bokke sal opdraf.

“Meneer Hansen het gesê dat hy sy beste span kan kies. Ons verwag ʼn nuwe pyl in die All Blacks se koker. Hulle is ʼn intelligente klomp en kom altyd met iets nuuts vorendag,” het Proudfoot gesê.

Ian Foster, een van die All Blacks-afrigter, Steve Hansen, se adjudante, wou nie daaraan byt nie.

“Ek weet nie hoe Matthew daaraan kan dink nie. Dis baie moeilik om hom (Retallick) van julle af weg te hou. Hy is ʼn monster van ses voet en nege duim (2,06 m) en ons probeer ook nie om hom weg te steek nie. Ek is baie seker dat hy nie Saterdag daar gaan wees nie. Maar wie weet?” het Foster volgens stuff.co.nz geskimp.

Uit die Bokke se kamp is daar nog geen duidelikheid nie of die vaskop Trevor Nyakane sal kan speel nie. Hy was vir ʼn paar dae in Suid-Afrika om sy vrou met die geboorte van hul eersteling by te staan en hy sukkel ook met ʼn ligte beenbesering wat hy teen Japan opgedoen het. Hy draf glo op sy eie, maar niemand het bevestig (of wou sê) of hy reeds aan kontakoefeninge kon deelneem nie.

As hy nie kan speel nie, of dalk op die bank gekies word, is die kans goed dat Vincent Koch, en nie Frans Malherbe nie, sal begin.

Moontlike Springbokspan: Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Cheslin Kolbe, Handré Pollard, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Trevor Nyakane/Vincent Koch, Malcolm Marx, Beast Mtawarira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Julle is almal lekker laf vandag ne! Seker MM sal berig wysig!

Boesman ·

Cheslin Kolbe vul twee posisies, skrummie en vleuel. Hy het die ander keer gedoen.

Morne ·

Bokke gaan wen met of sonder Brodie in die span en dan weer in die finaal. dit is maar net so!!!!!!!!!!!!!!! BOKKE KOOK LEKKER

kolla ·

Geen probleem nie, Kolbe speel twee posisies gelyk. ‘n Ander positief is dat ons ook dan minder sal skop.

LHS ·

Laat ons maar kyk wat gebeur. Die span wat gaan wen gaan met meer as 15 punte wen en die verloorspan gaan n paar spelers met beserings oorhou.

Niklaas ·

Taamlik gedugte Bok span as hierdie voorlopige span so aangewys gaan word. Laat ons net hoop daar is nou al met Mapimpi gepraat oor sy “kwaal” en dis om binne toe te speel en sy opponent nie merk nie. Hy wil dalks onderskep maar die groot gaping gelaat , sal AB vleuel telkens deur laat. Dit gaan een goeie stryd wees hierdie.

Viss ·

Ek is bevrees dat die All Blacks ons gaan slag,,,,,,,,,,,,,,,,daar is te veel dinge in die agterlyn wat nie lekker is nie en hulle het laaaaaankal planne uitgewerk om dit uit te buit.

Swartwolf ·

Witwolf jou hoogs intellektuele ontleding van ‘n dier naam is verbasend. Wil jy nie ons inlig wat jy dink van “Witwolf” nie? Onthou die wolf deel = agteraf, so waarmee gaan jy die “wit” assosieer ? En onthou dit moet iets met intelligensie wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.