Steil bult wag op Sharks in Kaapstad

Die Sharks se Neil Powell. Foto: Romain Perrocheau/AFP.

ʼn Mens sal seker nou nie so ver gaan as om te sê dat dit ʼn opskudding sal wees as die Sharks die Stormers op die DHL-stadion klop nie, maar die Durbaniete weet dat hulle hul sokkies baie hoog sal moet optrek as hulle in Kaapstad wil wen.

Die Stormers het immers die vorige wedstryd tussen die twee spanne op ʼn drafstap met 46 – 19 in Durban gewen, terwyl hulle ook verlede naweek in ʼn aksiebelaaide stryd teen die Bulls op Loftus Versfeld as oorwinnaars van die veld gestap het.

Daarteenoor was die Sharks hul eie grootste vyande toe hulle teen Ulster die onderspit op hul tuisveld gedelf het.

“Ons het onsself teen Ulster in die steek gelaat. Ons kon nie die Ierse klub onder volgehoue druk plaas nie en hulle het hopeloos te veel geleenthede gekry om rolmaalbewegings in ons gebied van stapel te stuur,” het Neil Powell, die Sharks se direkteur van rugby, gesê.

Hy weet ook dat die pad om ʼn plek in die uitspeelrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap nie makliker teen die Stormers sal word nie.

“Hulle [die Stormers] is ʼn baie goeie rugbyspan en daar is ʼn rede waarom hulle die tweede plek op die punteleer beklee. Hulle druk hul stempel op ʼn unieke manier op die wedstryd af en hulle sal ʼn span op die telbord straf wat nie akkurate spel opdis nie.”

Volgens Powell is die Kapenaars goed afgerig en hulle het gewoonlik antwoorde gereed vir hul teenstanders se vrae; op die aanval sowel as op verdediging.

“Ons sal ʼn goeie plan in plek moet hê want die Stormers is altyd ʼn bedreiging. Ons kan nie bekostig om net in een faset van die spel goed te wees nie want hulle sal beslis munt daaruit slaan.”

Die wedstryd begin Saterdag om 16:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer:
  1. Leinster: 66 punte ná 14 wedstryde
  2. Stormers 54 punte ná 14 wedstryde
  3. Ulster: 49 punte ná 14 wedstryde
  4. Glasgow Warriors: 44 punte ná 14 wedstryde
  5. Munster: 42 punte ná 14 wedstryde
  6. Bulls: 41 punte ná 14 wedstryde
  7. Sharks: 40 punte ná 14 wedstryde
  8. Connacht: 35 punte ná 14 wedstryde
  9. Cardiff: 34 punte ná 14 wedstryde
  10. Benetton: 34 punte ná 14 wedstryde
  11. Edinburgh: 31 punte ná 14 wedstryde
  12. Lions: 29 punte ná 14 wedstryde
  13. Ospreys: 29 punte ná 14 wedstryde
  14. Scarlets: 27 punte ná 14 wedstryde
  15. Dragons: 18 punte ná 14 wedstryde
  16. Zebre: 8 punte ná 14 wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.