Stick kies sy groep vir Munster-stryd

Aphelele Fassi. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Op papier lyk die SA A-span wat teen Munster gaan speel baie goed – daar is darem ʼn ervare losskakel in die beginvyftiental.

Johan Goosen sal die nommertientrui dra, terwyl opwindende spelers soos Aphelele Fassi en Henco van Wyk die agterlyn inkleur.

Voorlangs vorm Jean-Luc du Preez, Elrigh Louw en Phepsi Buthelezi die lostrio, terwyl Ruan Nortjé en Jason Jenkins in die lynstane sal rank.

Die span word deur Thomas du Toit aangevoer en daar is altesaam 14 spelers met Springbok-ervaring in die wedstrydgroep.

Mzwandile Stick (afrigter) is in sy noppies met die spelers wat hy tot sy beskikking het.

“Dit is ʼn opwindende kombinasie van ervare spelers en jong talent; hulle sal beslis nie vir Munster op die speelveld terugstaan nie. Een van die hoofredes waarom daar ʼn SA A- en ʼn Springbokgroep vir die jaareindtoer gekies is, is om die net so wyd as moontlik te span in ʼn poging om ons spelerdiepte voor die Wêreldbeker-toernooi te toets.”

Volgens Stick word daar terselfdertyd ook gepoog om – ervaringsgewys – soveel as moontlik spelers aan wedstryde van hoogstaande gehalte bloot te stel.

Johan Goosen. Foto: GB Jordaan.

Rassie Erasmus sou aanvanklik saam na Cork vir die Munster-kragmeting gereis het, maar die Springbokke geniet tans sy onverdeelde aandag.

Hy sal egter steeds vir Stick en die res van die afrigterspan vanuit Frankryk bystaan.

Hoewel Munster tans 14de op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer is, sal hulle hoegenaamd nie kanonvoer in hul wedstryd teen die Suid-Afrikaners wees nie.

“Hulle is een van die topklubspanne ter wêreld en hulle handhaaf ʼn goeie balans tussen fisieke voorspelers en ʼn opwindende agterlyn. Dit sal beslis gʼn maklike taak wees om hulle te tem nie.”

Die wedstryd begin Donderdag om 21:30 (SA tyd).

SA-A: Aphelele Fassi (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Henco van Wyk (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Jean-Luc du Preez (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Phepsi Buthelezi (flank), Ruan Nortjé (slot), Jason Jenkins (slot), Thomas du Toit (kaptein en stut), Joseph Dweba (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: André-Hugo Venter, Simphiwe Matanzima, Sazi Sandi, Dan du Preez, Sikhumbuzo Notshe, Grant Williams, Sanele Nohamba en Gianni Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manney ·

Dit gaan opwindend wees. Good luck boys. Play well and have fun.

Leon ·

Wonder net hoekom het Johan Goosen nie teen Ierland gespeel. Ervare en erkende stelskopper. Nienaber het seker sy “duistere” rede

Casper ·

Kyk my beskeie mening is,Johan Goosen het nog nooit ‘n goeie vertoning gelewer in die Groen en Goud nie.Sy stelskopwerk in sy eerste toets was skokkend en toe is hy beseer en moes die veld verlaat,heeqlteqmaql overrated.Chris Smith,nou ja bokrugby is vervelig en ek gaan nou eers ‘n rukkie slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.