Stormers kies Bokke om Leinster te tem

Steven Kitshoff in aksie teen Leinster. Foto: Hansie Linde.

Die Stormers het ʼn rits Springbokke – onder wie Steven Kitshoff, Damian Willemse en Frans Malherbe – tot sy beskikking om Leinster in Dublin te probeer tem.

Benewens dié drie Bokke kan die Kapenaars ook op die dienste van sterre soos Manie Libbok, Deon Fourie, Seabelo Senatla en Hacjivah Dayimani steun om die knoop deur te hak.

Maklik gaan dit beslis nie wees nie.

Leinster het nog nie ʼn enkele wedstryd in vanjaar se toernooi verloor nie, maar die Bulls het verlede seisoen gewys dat dit inderdaad moontlik is om die Ierse reuse op hul tuisveld te laat struikel.

“Dit is wonderlik om die Springbok-spelers weer deel van die opset te hê en ons sien uit na dit wat hulle in ʼn baie moeilike wegwedstryd kan doen,” het John Dobson (afrigter) gesê.

Damian Willemse.  Foto: Twitter.

Op sy beurt het ʼn vurige Willemse gesê dat hy gereed is vir aksie nadat hy ʼn Springbok-oefenkamp van ʼn paar weke bygewoon het.

“Dit was lekker om ʼn bietjie van ʼn blaaskans te geniet en die manne is uitgehonger om weer op die veld ʼn verskil te maak,” het die vlugvoetige Stormer-agterspeler gesê.

“Die Stormers speel goeie rugby en die span staan sterk op hul tuisveld en weg van die huis. Ek is baie trots op elke liewe speler wat ons VRK-droom lewendig hou.”

Intussen het die Sesnasies-reeks sy tol geëis en Johnny Sexton sal die Stormers-kragmeting met ʼn liesbesering misloop.

Leinster en Ierland se Johnny Sexton. Foto: Twitter.

“Dit was hartseer om te sien dat hy die veld teen Engeland moes verlaat. Johnny is ʼn ongelooflike leier en dit is net gepas dat hy die Sesnasies-silwerware op sy tuisveld kon omhoog hou,” het Andrew Goodman (hulpafrigter) gesê.

Dan gaan Caelan Doris, Hugo Keenan en Garry Ringrose ook die aksie van langs die veld dophou omdat hulle die korrekte protokol moet volg nadat hulle harsingskudding gedurende die toernooi opgedoen het.

Jason Jenkins, die voormalige Bulls-slot, is in Leinster se opdrafspan en hy sal saam met Ross Molony in die lynstane rank.

Die wedstryd begin Vrydag om 21:35 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Stormers: Clayton Blommetjies (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Dan du Plessis (buitesenter), Damian Willemse (binnesenter), Seabelo Senatla (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Paul de Wet (skrumskakel), Hacjivah Dayimani (agtsteman), Ben-Jason Dixon (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Ruben van Heerden (slot), Frans Malherbe (stut), Joseph Dweba (haker) en Steven Kitshoff (kaptein en stut). Plaasvervangers: JJ Kotze, Brok Harris, Neethling Fouché, Ernst van Rhyn, Willie Engelbrecht, Marcel Theunissen, Herschel Jantjies en Jean-Luc du Plessis.

Leinster: Jordan Lamour (heelagter), Rob Russell (regtervleuel), Liam Turner (buitesenter), Ciaran Frawley (binnesenter), Dave Kearney (linkervleuel), Harry Byrne (losskakel), Luke McGrath (skrumskakel), Max Deegan (agtsteman), Scott Penny (flank), Rhys Ruddock (kaptein en flank), Jason Jenkins (slot), Ross Molony (slot), Michael Ala’alatoa (stut), John McKee (haker) en Michael Milne (stut).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.