Stormers marsjeer voort teen Saints

Die Stormers het die Northampton Saints weg van die huis geklop. (Foto: X/Stormers)

Die Stormers het ʼn slag op Franklin’s Gardens geslaan om die Northampton Saints met 45–29 in ʼn vermaaklike vertoonwedstryd te klop.

Die besoekers se sewe drieë het vir die nodige adrenalieninspuiting gesorg.

Ja, dit was nie ʼn seepgladde vertoning nie, maar die Stormers is op hul beste wanneer hulle die bal lekker lug gee en aanvallende rugby speel.

Junior Pokomela het twee drieë gedruk, Wandisile Simelane het met sy sokkervaardighede uitgeblink, terwyl Keke Morabe deur die Saints se verdedigers gebars het.

Voeg daarby Stefan Ungerer en Hacjivah Dayimani se opportunistiese spel saam met Connor Evans – wat sulke ellelange treë gegee het om sy drie te druk – en jy sit met ʼn Stormers-span wat met wafferse Barbarians-rugby die kragmeting beklink het.

Vir die Saints het Suid-Afrikaanse huursoldate soos Burger Odendaal en Juarno Augustus stewige vertonings gelewer, terwyl die blitsige Will Glister altyd ʼn bedreiging is wanneer hy die bal in die hande kry.

Dit is egter opwindend om die Stormers in aksie te sien wanneer die spel vloei en daar genoeg gapings in die verdedigingslinie is.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Junior Pokomela (2), Wandisile Simelane, Keke Morabe, Stefan Ungerer, Connor Evans en Hacjivah Dayimani. Doelskoppe: Jurie Matthee (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.