Stormers sal nie Connacht onderskat

Die Stormers wil hul ondersteuners laat glimlag. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers mag dalk die septer op hul tuisveld swaai, maar hulle sal nie vir Connacht in die komende Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd op die DHL-stadion onderskat nie.

Die Galway-span het vir die uitspeelstryd gekwalifiseer toe die lede vir Ulster met 15–10 in die kwarteindstryd geklop het.

Volgens John Dobson is die Ierse span taai teenstanders, maar die lang vlug kan ʼn invloed op hul skerpheid hê.

“Ons kan selfversekerd wees, maar daardie selfvertroue moet nie as arrogansie geïnterpreteer word nie,” het die Stormers-afrigter gesê.

“Ons het baie respek vir Connacht se spankultuur en -waardes. Hulle gaan lê nie sommer nie, terwyl hulle ook baie goed op die aanval is. Terselfdertyd het hulle ook vir Ulster by die afbreekpunte laat les opsê.”

Die Stormers het al vantevore met die Ierse besoekers in die Kaap afgereken – hulle het destyds met 38–15 in Stellenbosch gewen.

Tog meen Hacjivah Dayimani dat Connacht nou ʼn perd van ʼn ander kleur is.

“Ons verwag hoegenaamd nie ʼn maklike wedstryd nie. Ons het trouens nog nooit enige van ons teenstanders onderskat nie, maar ons wil elke liewe wedstryd wen,” het hy gesê.

Volgens die losvoorspeler sal die tuisspan alles in die stryd werp om sy VRK-titel suksesvol te verdedig.

“Ons konsentreer nou slegs op die wedstryd teen Connacht en ons is maar alte bewus van wat hulle op ʼn rugbyveld kan vermag.”

Hy het bygevoeg dat die Stormers speel om hul ondersteuners trots te maak en hy hoop dat daar selfs meer ondersteuners op die DHL-stadion sal toesak.

ʼn Bywoningsrekord het verlede week gespat toe 44 109 toeskouers die kwarteindstryd teen die Bulls bygewoon het.

“Dit was wonderlik om te sien. ʼn Paar jaar terug – voor Covid – het die stadions leeg gevoel en nou wil mense ons graag sien speel. Ons hoofdoel is om vir Kaapstad te laat glimlag.”

Die wedstryd begin Saterdag om 16:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Uitslae van vorige kragmetings:

Stormers 38–15 Connacht in Stellenbosch

Connacht 19–17 Stormers in Galway

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.