Stormers, Sharks delf onderspit oorsee

Die Stormers het met 20 – 9 weg van die huis teen die Glasgow Warriors verloor. (Foto: Facebook/Glasgow Warriors)

Onder Franco Smith se bekwame toesig verloor die Glasgow Warriors nie sommer op hul tuisveld nie en hulle het Vrydagaand die besoekende Stormers met 20 – 9 geklop.

Die Kapenaars het dinge ook ʼn bietjie makliker vir die Skotse span gemaak: ʼn Paar ongedwonge foute en Evan Roos en Joseph Dweba se geel kaarte in die eerste helfte het tot die Stormers se gesukkel bygedra.

Johnny Matthews het twee drieë vir Glasgow gedruk, terwyl Sione Tuipulotu met sy uitstekende lopie ook die Stormers op die agtervoet betrap het.

Dit was die Kapenaars – wat in verlede jaar se eindstryd teen Munster gespeel het – se eerste nederlaag in die jongste weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Puntemakers:

Glasgow Warriors: Drieë: Johnny Matthews (2) en Sione Tuipulotu. Doelskop: George Horne. Strafskop: Horne.

Stormers: Strafskoppe: Sacha Feinberg-Mngomezulu (3).

  • Die Sharks het ook die wind van voor op die Twickenham Stoop-stadion teen die Ospreys gekry.

Dit is die eerste keer ooit dat ʼn VRK-wedstryd in Engeland beslis is en die Walliese span het die kragmeting met 19 – 5 beklink.

Die Ospreys, wat ook nie juis op hul beste was nie, het drie drieë gedruk, terwyl Phepsi Buthelezi vir die Sharks se enigste punte verantwoordelik was.

Die Durbaniete het nog geen punte op die punteleer nie.

Puntemakers:

Ospreys: Drieë: Jack Walsh, Max Nagy en Keiran Williams. Doelskop: Walsh.

Sharks: Drie: Phepsi Buthelezi.

  • VRK-punteleer:
  1. Stormers: 10 punte ná drie wedstryde
  2. Glasgow Warriors: 10 punte ná drie wedstryde
  3. Ospreys: 10 punte ná drie wedstryde
  4. Connacht: 9 punte ná twee wedstryde
  5. Ulster: 9 punte ná twee wedstryde
  6. Edinburgh: 8 punte ná twee wedstryde
  7. Munster: 7 punte ná twee wedstryde
  8. Bulls: 6 punte ná twee wedstryde
  9. Benetton: 6 punte ná twee wedstryde
  10. Cardiff: 5 punte ná twee wedstryde
  11. Leinster: 5 punte ná twee wedstryde
  12. Zebre: 4 punte ná twee wedstryde
  13. Lions: 3 punte ná twee wedstryde
  14. Dragons: 2 punte ná twee wedstryde
  15. Sharks: geen punte nie ná drie wedstryde
  16. Scarlets: geen punte nie ná twee wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.