Stormers weet binnekort of Fourie sal speel

Deon Fourie op die aanval. (Foto: Hansie Linde.)

Ja, daar is weliswaar min dinge wat tans so goed op die Verenigde Rugbykampioenskap-rugbyveld lyk as die Stormers-agterlyn op volle vaart, maar Deon Fourie het ook ʼn leeueaandeel in die Kapenaars se sukses.

Die 36-jarige losvoorspeler se spel by die afbreekpunte kan deurslaggewend in Saterdag se halfeindstryd teen Connacht op die DHL-stadion wees.

Die Galway-span het immers vroeër amok in dié afdeling van die spel teen Ulster gemaak.

Tog is die Stormers-bestuur tans onseker of Fourie in sy wedstrydgroep sal wees nadat hy sy dyspier in die kwarteindstryd teen die Bulls seergemaak het.

“Daar is seker ʼn 50%-kans dat Deon sal speel; ons sal ʼn besluit ná Vrydag se kapteinslopie neem,” het John Dobson gesê.

Volgens die Stormers-afrigter is Fourie se ontydige besering ʼn terugslag, veral omdat daar nie iets soos ʼn tweede kans in ʼn uitklopwedstryd is nie. Terselfdertyd moet die speler se doelwitte vir die res van die jaar ook in ag geneem word.

ʼn Vliegtuigkaartjie na die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk is immers op die spel.

“Daar is dus geen druk op Deon nie. As hy wil speel, dan is dit lekker en hy is beslis nog deel van ons planne.”

Intussen het Steven Kitshoff weer eens bevestig dat die Stormers nie die besoekende Ierse klub sal onderskat nie.

“Connacht is ʼn fisieke rugbyspan en hulle is veral ʼn bedreiging by die afbreekpunte. Daar is egter baie druk op ons, want mense verwag nie dat hulle die wedstryd sal wen nie; ons sal beslis op ons heel beste moet wees,” het die Stormers-kaptein gesê.

Die Stormers het op sosiale media bevestig dat 35 000 kaartjies reeds vir die kragmeting verkoop is. ʼn Bywoningsrekord of twee het verlede week in sy kwarteindstryd teen die Bulls gespat toe 44 109 toeskouers die DHL-stadion volgesit het.

Die wedstryd begin Saterdag om 16:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.