Superrugby-uitspeelrondes: Dis ’n lotery

Die bottelnek in die wedloop om uitspeelplekke in die Superrugby-reeks is besig om al nouer te word.

Dit het gevolg nadat die Blues Saterdagoggend op Edenpark in Auckland die Chiefs met 23 – 8 vir ʼn bonuspuntsege geklop het en die Waratahs die Reds met 40 – 32 in Brisbane geklop het en hulle van ʼn bonuspunt weerhou het.

Die Blues (26 punte) en die Waratahs (26) het hul kanse lewendig gehou om nog te kwalifiseer, hoewel hul paadjies vorentoe vol slaggate sal wees. Hulle sal al hul oorblywende wedstryde moet wen of minstens elke keer bonuspunte moet verower om hul aansprake te behou.

Die Blues, wat die Chiefs laas in 2011 geklop het, kon voor dié sege nog net twee van hul 35 wedstryde teen Nieu-Seelandse teenstanders wen.

Dis hoekom die Blues so bly was toe die eindfluitjie geblaas het, want die wiel is besig om (stadig) te draai.

Wat opmerklik was, was die vertonings van Rieko en Akira Ioane, Ma’a Nonu, Patrick Tuipulotu en die jong Caleb Clarke.

Clarke is die seun van Eroni Clarke wat in 1992 saam met die All Blacks deur Suid-Afrika getoer het en in 1998 in een van rugby se epiese toetse in Durban senter gespeel het toe die Bokke met 24 – 23 teen die All Blacks aan die wenkant was.

Caleb is opwindend, hy het baie vaart en skryf maar sy naam neer, hy gaan in Eroni se voetspore volg en ook toetsrugby speel.

Hy is ook nie bang om sy standpunt te lug nie en het openlik sy steun aan die gewese Wallaby-heelagter Israel Folau  gegee wat nou van sy kontrak deur Rugby Australia onthef is oor sy godsdiensstandpunte op Twitter.

Die Blues kan saam met minstens nog twee Nieu-Seelandse spanne, die Crusaders (47 punte) en Hurricanes (40), vir die agt uitspeelplekke kwalifiseer. En moet ook nog nie van die Highlanders vergeet nie.

Die agt voorste spanne kwalifiseer vir die uitspeelrondes, met die voorste span in elke groep wat outomaties vir tuisveldvoordeel kwalifiseer. So ook die Hurricanes (40) wat in alle waarskynlikheid vierde sal eindig om ook tuisveldvoordeel te beklink.

Wat teen die Blues tel, is dat hulle nog teen die Crusaders, die Bulls, die Reds en die Hurricanes moet speel en kom ons wees eerlik, hul drome hang maar aan ʼn dun draadjie.

Daar is ʼn groot verbetering in die Blues se algemene spel en vaardighede sedert Leon MacDonald vroeër vanjaar die leisels geneem het, maar dit gaan nie net oornag gebeur nie.

Hulle het nou die vermoë en vaardighede om ʼn hele paar fases af te dwing, maar dan verloor hulle besit, wat hul ondergang teen van die sterker spanne kan beteken, veral as hulle weg van die huis af gaan speel.

Punte:

Blues 25 (10): Drieë: Harry Plummer, Melani Nanai, Ofa Tu’ungafasi, Gerard Cowley-Tuioti. Strafdoel: Plummer.

Chiefs 8 (8): Drie: Mitch Karpik. Strafdoel: Marty McKenzie.

* In Brisbane het twee laat strafdoele deur die Waratahs-losskakel, Bernard Foley, die Reds gekelder.

Die Waratahs het met 40 – 32 gewen.

Foley het meesterlik vertoon, een van die Waratahs se vier drieë gedruk, met al vier doelskoppe en vier strafdoele geslaag vir ʼn persoonlike bydrae van 25 punte. Vergeet van Quade Cooper as Wallaby-losskakel, Foley het die posisie herbevestig.

Die Reds, wat ses keer gedruk het, kan hulself skop dat hulle verloor het. Dit was hul 11de opeenvolgende nederlaag teen die Waratahs en as jy nie jou dissipline kan handhaaf nie en ook nie ʼn betroubare doelskopper het nie, gaan jy ʼn dure prys betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.